Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Babameisie voor hospitaal se hek gelos

’n Sekerheidswag het ’n babameisie vroegoggend voor die hek van Vredenburg se provinsiale hospitaal ontdek.

Volgens kapt. Tania Helfrich, woordvoerder van Vredenburg-polisie, is die baba op 30 Desember by die hospitaal afgelaai en omstreeks 06:00 deur die wag gewaar.

Die baba se presiese ouderdom is nie bekend nie, maar na raming is sy moontlik tussen een en drie maande oud.

Volgens Helfrich is ’n strafregtelike saak van kinderverlating aanhangig gemaak ingevolge die Wet op die Beskerming van Kinders. Ingevolge dié wet is dit ’n misdaad om ’n kind te verlaat. Die biologiese ma kan strafregtelik aanspreeklik gehou en vervolg word.

Volgens Helfrich is ’n strafregtelike ondersoek ’n vereiste, al was dit die ma (wat moontlik nie in staat is om vir die baba te sorg nie) se intensie om die kind by die hospitaal te los, waar ’n verantwoordelike volwassene haar sal vind, al dan nie.

“Daar is ’n wettige proses wat gevolg moet word wanneer ’n ma haar kind wil weggee of laat aanneem,” het sy verduidelik.

“Die departement maatskaplike ontwikkeling en die hof is aktief betrokke by sulke sake.”

Jenny Moors is ’n plaaslike liefdadigheidswerker en kampvegter vir ’n fasiliteit aan die Weskus waar ma’s anoniem hul ongewenste babas in ’n houer buite ’n huis van veiligheid kan los. Sy sê soortgelyke babageriewe, soos die een in Lavender Hill in Kaapstad, het reeds talle jong lewens gered en ma’s wat van hierdie houers gebruik maak, staar nie vervolging in die gesig nie. Sodra iemand een van die houers oopmaak om ’n baba daarin te plaas, word ’n sein geaktiveer sodat personeel of vrywilligers bewus is van die kind wat pas daar gelos is. Moors sê daar is nog ’n paar hekkies waaroor gespring moet word, voor só ’n fasiliteit ’n werklikheid aan die Weskus kan word.

Weslander skryf gereeld oor die lykies van pasgebore babas wat in dreine, toilette en stormwaterpype gevind word.

Moors het met ’n vorige onderhoud met Weslander gesê talle jong mammas kies steeds om hul kinders “weg te gooi” eerder as om geoordeel te word wanneer hulle besluit om hulle kinders vir aanneming af te gee. Baie van hierdie ma’s is glo dwelmverslaafdes of onkundige, bang tieners wat hul swangerskappe wegsteek en uit desperaatheid van hul babas op ’n tragiese manier ontslae raak.

“Daar is soveel Weskus-ouers wat nie die geld het om na hul kinders om te sien nie. Ek dink nie die publiek besef hoe erg die nood onder mense is nie,” meen Moors. Enigeen met inligting wat moontlik tot die opsporing van die baba se ouers of familie kan lei, word gevra om konst. Portia George by 022 703 6464 te bel. Enigeen wat klere, of beno­digdhede aan die kleinding wil skenk, kan dit by die Weslander se kan­toor in Velddrifweg, Vredenburg, kom afgee. • The Vredenburg police are looking for any information after a security guard found this baby at the gate of the Provincial hospital on 30 December at around 06:00. Please contact Const Portia George on 022 703 6464.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.