Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Baie bouwerk met min water by hospitaal

’n Jaar nadat dele van die Swartland-hospitaal deur vlamme verswelg is, is “water-slim” bouwerk reeds aan die gang.

Weslander se susterskoerant, Swartland Gazette berig daar word beplan om die tydelike infrastruktuur wat opgerig is ná die brand uit te brei.

“Daar is ’n baie sterk fokus op spaarsamige waterverbruik en boorgatwater sal hoofsaaklik vir konstruksiedoeleindes gebruik word,” sê Maria Streicher, woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van gesondheid (WKGD).

Die WKGD het ook aangedui dat die bou van ’n nuwe hospitaal ’n prioriteit is.

Daar is al met die aanbouings van die eerste fases begin. Dit sal ’n aantal jare neem om ’n nuwe hospitaal te vestig en daarom is die plan om gesondheidsorgdienste by die huidige hospitaalpersoneel te versterk.

Bestaande geboue sal omskep word om radiografie (X-strale), ’n buitepasiënteafdeling, ontvangs, noodsentrum, kombuis, fisioterapie en teater te huisves. Twee nuwe vleuels sal aangebou word vir die herstel van pasiënte en dan sal die kraamsaal weer kan funksioneer. Die konstruksie het 19 Februarie begin.

Ambulansdienste

Inwoners van die Swartland wat afhanklik is van Swartland-hospitaal se dienste sê daar is slegs twee ambulanse by die hospitaal beskikbaar en dit is hoegenaamd nie genoeg om die hele streek te bedien nie. Volgens Streicher word EMS (Emergency Medical Services) as ’n gespesialiseerde ondersteunings­diens gesien. Dit val nie onder die administrasie van die hospitaal of die distrik nie.

“Die diens word op ’n geografiese grondslag gelewer en ontplooi na waar daar nood is. Dit beteken dat die aantal beskikbare ambulanse op ’n daaglikse basis kan wissel na gelang van die nood in die streek,” sê sy. Die ambulanse van die Swartland word tans as volg uitgeplaas: Twee in Malmesbury/Darling, een in Moorrees­burg en een voertuig vir kritieke sorg vir die distrik. Daar is inderdaad twee ambulanse per 12-uur-skof aan diens in Malmesbury. Daar is ook reeds ’n addisionele bussie om pasiënte tussen Swartland-hospitaal en Radie Kotze-hospitaal in Piketberg vir operasies te vervoer.

“Die begroting en verkryging van ’n addisionele ambulans val egter nie onder die hospitaal nie, maar is die verantwoordelikheid van die Wes-Kaapse EMS,” sê sy. Die EMS het reeds die maksimum hoeveelheid noodvoertuie wat sy begroting toelaat. ’n Ekstra voertuig is daargestel vir die vervoer van pasiënte tussen hospitale vir chirurgie en hospitaaldienste.

“Die gemeenskap word aangemoedig om slegs die ambulans te ontbied as dit werklik ’n noodgeval is en nie wanneer hulle eintlik net vervoer nodig het na die kliniek of hospitaal nie,” sê Streicher.

Die Wes-Kaapse EMS poog om in stedelike gebiede ’n ambulans binne 15 minute by ’n P1-geval te kry, en binne 40 minute in landelike gebiede.

“Die personeel van Swartland EMS werk hard om wagperiodes so kort as moontlik te hou. Aspekte wat hierdie tye beïnvloed, is onder meer afstand, padwerk, onduidelikheid rakende die adres en ook voorkeur van kritieke pasiënte.

Waterbesparing

Die Swartland, soos die res van die provinsie, gaan gebuk onder die voortslepende droogte. Streicher sê alle afdelings van die hospitaal is reeds daarop toegespits om soveel as moontlik water te bespaar.

Besparingsmaatreëls sluit in waterlose handwasmiddel, die herstel van lekkasies in infrastruktuur, installasie van waterlose toiletgeriewe en die gebruik van behandelde water.

“Verdere stappe behels gedrags­aan­pas­sing deur personeel en pasiënte, asook die aanwending van infrastruk­tuur soos boorgatwatervoorsiening (reeds by Swartland-hospitaal geïmplementeer), watertenkstoring en ander metodes om reënwater op te vang en te gebruik. Indien die drinkwater se gehalte nie geskik is vir menslike gebruik nie, sal gebottelde water beskikbaar gestel word,” voeg sy by.

Streicher sê die Swartland-hospitaal se verbruik verskil van dag tot dag, soos pasiëntgetalle wissel en dat die WKDG kommunikasieveldtogte van stapel gestuur het om mense wat hul gesondheidsdienste gebruik daarop te wys dat ons ’n watertekort het en dat hul samewerking baie belangrik is. Streicher beklemtoon dat die sorg aan pasiënte steeds met dieselfde toewyding gelewer word.

“Pasiënte en personeel word egter aangemoedig om water te bespaar. Hospitale se water sal nie afgesny word indien Dag Zero wel aanbreek nie en dienste by Swartland-hospitaal sal voortgaan.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.