Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Baie steeds skepties nadat burgemeester video vrystel

Daar is nog geen uitsluitsel oor die geldigheid van Marius Koen, die burgemeester, se meestersgraad nie.

Koen, die burgemeester van die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM), is een van ’n paar DA-leiers wat die afgelope paar weke in die media bespreek is met betrekking tot die tersiêre kwalifikasies wat hulle beweer hulle het, al dan nie.

Weslander het verlede week berig dat die DA die Hull-universiteit in Engeland genader het om te bepaal of Koen wel ’n meestersgraad deur dié instelling voltooi het.

Koen het twee weke gelede ’n skriftelike bewys van die akademiese uitslae, ’n toelatingsbrief van die universiteit sowel as sy gebinde tesis vir sy meestersgraad by die Hull-universiteit aan Weslander gewys en dieselfde bewyse aan kykers in ’n video-opname op sy Facebookblad genaamd Mayor Marius Koen getoon.

Koen het ook van die video-geleentheid gebruik gemaak om sy misnoeë uit te spreek teenoor diegene wat hulle glo die afgelope vier en half jaar skuldig maak aan “persoonlike aanvalle” teen hom as burgemeester.

“Ek sal nie toelaat dat hierdie aanslag voortgaan nie,” het hy gesê.

Koen het ook in die video genoem dat daar ’n fyn lyn tussen “politieke spel en laster” is.

“Ek is met geen ander keuse gelaat as om regstappe te oorweeg teenoor diegene wat voortgaan met hierdie tendens nie.”

Hy het ook genoem dat hy verlede jaar daarvan beskuldig is dat hy R750 000 van die munisipaliteit gesteel het en dat ’n spesiale ondersoek, wat deur president Cyril Ramaphosa goedgekeur is, bepaal het dat hy onskuldig is.

“Ek is egter nie ’n openbare verskoning gebied nie. Dié valse aantygings het belastingbetalers R90 000 gekos.”

Nie almal is egter oortuig dat Koen die waarheid praat nie – veral nie die EFF en die GOOD-politeke party nie.

Maandag nadat die video op Facebook gepubliseer is, het Sammy Claassen van GOOD, wat sy party aan die Weskus verteenwoordig, ’n persverklaring uitgereik waarin hy sê ’n “toelatingsbrief” tot die universiteit “is nie ’n meestersgraad nie”.

GOOD wil by die burgemeester weet waarom hy nie sy geraamde, amptelike meestersgraad kan wys nie.

“As die DA nie hierdie kwalifikasie of graad teen Woensdag 5 Mei kan toon nie, sal GOOD geen ander opsie hê as om ons nasionale leierskap te raadpleeg om strafregtelike klagte teen die burgemeester aanhangig te maak nie. Ons sal ook voor die munisipaliteit betoog om die waarheid te eis,” het Claassen gesê.

Claassen het ook genoem dis algemeen bekend dat ’n tersiêre kwalifikasie nie noodsaaklik is in die politiek nie, maar dat leuens oor grade politieke leiers onbetroubaar maak en hul integriteit in twyfel trek.

Volgens Koen is sommige politieke partye besig om “vuil te speel” in “gekke-seisoen” voor die komende munisipale verkiesing in Oktober.

“Mense moet daarvan bewus wees dat politieke leiers alles gaan probeer om punte te wen,” het Koen in sy onderhoud met Weslander gesê.

Kykers wat die video gesien het, het opgemerk dat die dokument wat Koen se akademiese uitslae bevat, pertinent noem dat hy ’n punt van 0 sal kry “vir sy eerste probeerslag” as hy nie sy tesis teen 30 Maart 2001 indien nie. Op die gebinde tesis wat hy daarna op die video aan kykers wys, is die datum April 2002.

Koen het teen druktyd nog nie op Weslander se navraag geantwoord om te verduidelik of hy wel sy tesis betyds ingegee het of moontlik die tesis met ’n volgende ronde, dalk in 2002, ingedien het nie.

Die voorsitter van die DA se federale raad, Helen Zille, het die ondersoek na die kwalifikasies van Koen na die federale regskommissie van die party verwys vir ondersoek en beraadslaging.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.