’n Bejaarde egpaar van Langebaan is oor die naweek deur rowers in hul huis in die spogwoonbuurt Myburghpark vasgebind.
Dis die derde soortgelyke voorval in Sunbirdstraat sedert September 2018 waaroor Weslander berig het. Twee van dié drie voorvalle waar ouer mense in hulle huis deur rowers geteiken is, het in die afgelope vier maande plaasgevind.
Die plaaslike polisiewoordvoerder, kapt. Tania Helfrich, het aan Weslander bevestig dat die nuutste voorval Sondag in die donker oggendure by ’n huis in Sunbirdstraat plaasgevind het. Die rowers het ’n aluminiumvenster uit ’n vensterraam gelig om toegang tot die woning te kry. Volgens die polisie het vier mans die huis binnegekom en die egpaar van die huis vasgebind. Vuurwapens, juwele, kontant en selfone is gebuit en die rowers het die huis deur die voordeur verlaat. Dis nog onbekend of die rowers te voet of in ’n voertuig gevlug het. Niemand is gedurende die huisroof beseer nie. ’n Paar huise van waar dié roof Sondag plaasgevind het, woon Maureen en Tommy Swift, wat in Oktober verlede jaar in hul huis aangeval en beroof is.
Weslander het ook in September 2018 berig dat ’n bejaarde vrou (80) deur rowers aangeval is. Die beseerde vrou is eers drie dae later in haar huis in Sunbirdstraat aangetref waarna sy gehospitaliseer is.
Christo de Wet, die bevelvoerder van Langebaan-polisie, het voorheen aan Weslander gesê Langebaan se privaat gefinansierde kringtelevisie-kamerastelsel help uitstekend om misdaad te bekamp en te voorkom. Ongelukkig is die kameras duur en nog nie oral in die dorp geïnstalleer nie.
Maureen Swift vra dat Langebaan se inwoners moet saamstaan om kameras op die hoek van Sunbird- en Sleighstraat, asook op die hoek van Sunbird- en Oostewalstraat, hoek van Birdland- en Sunbirdstraat, en by die sirkel by Sleigh- en Oostewalstraat te finansier.
Ook dat inwoners hul deel moet doen om die buurtwag en gemeenskaps-polisiëringsforum te ondersteun.