Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Bekende sterf skielik ná operasie

Sy operasie en chemoterapie was suksesvol. Die gewas het nie versprei nie en alle tekens het daarop gedui dat die kanker uitgewis is.

Tog het die noodlot anders besluit.

Riaan Reeders (57), eienaar van die Watergat-restaurant en -kuierplek in Langebaan, is verlede Donderdagoggend skielik aan septisemie (bloedvergiftiging) dood.

Volgens sy broer, Charl, was Riaan ’n baie bekende en geliefde sakeman in die dorp.

Watergat se drumpel word sedert Riaan se dood deurgetrap en die familie word oorval met oproepe en boodskappe van medelye.

Charl vertel Riaan het verlede jaar nog goeie gesondheid geniet, maar sy vel het teen Desember ’n kommerwekkende geel kleur geword.

’n Verstopping is in ’n mediese ondersoek in een van sy lewerpype ontdek en hy was vroeg in 2020 onder die mes om die probleem reg te stel.

Die operasie was suksesvol, maar die dokters het terselfdertyd ’n groeisel in sy pankreas ontdek.

’n Biopsie kon eers ’n paar weke later, nadat hy van die operasie herstel het, gedoen word en die uitslag daarvan was dat die groeisel op sy pankreas ’n kwaadaardige gewas is.

Riaan het van Mei af gereeld chemoterapie ontvang.

Hy is in Augustus weer geopereer om die gewas van sy pankreas te verwyder, en volgens Charl was die hele familie dankbaar dat die kanker nie versprei het nie.

“Die aanduiding was dat die kanker in die gedeelte wat weggesny is, heeltemal dood is,” verduidelik Charl.

Charl het sowat twee weke gelede uit George na Langebaan gekom om Riaan se sakebelange te bestuur terwyl hy in die hospitaal is.

“Ons het verwag hy sal huis toe kom, want alles het goed gegaan. Ons het nie gedink hy sal sterf nie.”

Bloedvergiftiging het egter ingetree en Riaan se lewe is Donderdag 27 Augustus om 02:00 kortgeknip.

Charl sê sy broer het reeds met sy eerste operasie vanjaar met infeksie gesukkel aangesien hy ’n “superkiem” in die hospitaal opgedoen het.

“Hulle het vir hom spesiale antibiotika gegee wat uit Nederland gekom het, en hy het gesond geword,” vertel Charl.

“Die dokters reken die kiem was dormant in Riaan se liggaam en dit het met sy laaste operasie weer kop uitgesteek. En dis nou hierdie kiem wat die septisemie veroorsaak en sy lewe geëis het.”

Benewens Watergat het Riaan ook die Water Shed en die Burger & Beer Shed in Langebaan besit.

Hy is vandeesweek veras.

’n Spesiale totsiens-geleentheid sal Saterdag by die Watergat gehou word, waar vriende en klante deur die loop van die dag na die restaurant kan kom om hul medelye te betoon en om Riaan op ’n gepaste wyse te kom groet.

“Ons wou nie net ’n roudiens van ’n uur lank hou nie, aangesien net 50 mense dit mag bywoon en dit nie regverdig is teenoor almal wat hom geken en liefgehad het nie. Ons wil aan soveel mense moontlik die geleentheid gee om te kom koebaai sê.”

Riaan laat sy vrou, Johanette, en dogter, Hilde. agter.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.