Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Bergrivier kry nuwe finanshoof

Die Bergrivier-munisipaliteit het onlangs ’n nuwe direkteur vir finansiële dienste aangestel.

Marius Wüst (48) het sy nuwe pos Woensdag 2 Januarie amptelik ingeneem.

Sy rol behels in breë trekke die finansiële bestuur van die munisipaliteit se geldsake binne die wetlike raamwerk – veral die wet op munisipale finansiële bestuur – asook die verkrygingsbestuursregulasies en verskeie ander wette. Hoofkomponente van die rol sluit in die bestuur van inkomstes, uitgawes, verkryging asook die begroting en verslagdoening.

“Dit is vir my in die kort tydjie by die Bergrivier-munisipaliteit onder die leiding van die uitvoerende burgemeester, die raad en die munisipale bestuurder baie duidelik dat konkrete en hoëgehalte-dienslewering voorop gestel word,” sê Wüst, wat groot skoene het om te vul nadat die munisipaliteit drie jaar ná mekaar skoon oudits ontvang het.

Sy ervaring behels meer as 20 jaar in die openbare en private sektore in finansiële sowel as tegniese rolle. Wüst se vorige werkgewers sluit in Stewart Scott (raadgewende ingenieurs), Deloitte & Touche, Asla, APG, die ontwikkelingsbank van Suider-Afrika; die departement van plaaslike regering en provinsiale tesourie en die Stellenbosch-munisipaliteit.

Wüst, ’n boorling van Bellville, het sy tersiêre kwalifikasie in siviele ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch verwerf. Hy het ook ’n rekenmeesterkwalifikasie van die Universiteit van Kaapstad en ’n honneursgraad in finansiële rekeningkunde van die Universiteit van KwaZulu-Natal.

Wüst se vyfjaarkontrak as finansiële hoof by die Stellenbosch-munisipaliteit het aan die einde van 2018 geëindig.

Volgens hom geniet hy die werksomgewing wat die tegniese wêrelde van fisieke dienslewering deur infrastruktuur en ontwikkeling met finansiële bestuur kombineer.

“Ek is baie dankbaar vir my permanente aanstelling as direkteur by Bergrivier-munisipaliteit en is ook baie opgewonde oor die geleenthede wat die rol my bied om die gemeenskap te dien,” het Wüst gesê.

Die inwoners van die dorp, voeg Wüst by, is baie vriendelik en “dit is werklik ’n groot voorreg om deel van die Bergrivier-gemeenskap te wees”.

As hy nie werk nie, hou hy daarvan om tyd saam met sy gesin deur te bring. Die Wüst-gesin is ywerige kampeerders en is ook baie lief vir die buitelewe. Hy lees ook graag oor geldsake en ontwikkeling.

Laastens sê Wüst: “Ek sal my bes doen om my deel tot die span by te dra. As deel van die munisipale span sal ek ook die inwoners se belange en behoeftes op ’n verantwoordelike manier met die begrotingsproses in ag neem.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.