Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Berugte misdaadpaartjie in Velddrif gevind

Die paartjie Donre Wiid (25), oorspronklik van die Weskus, en haar kêrel, Juan-Dean Krause (30), wat die land deur swerf terwyl hulle glo oral steel en niksvermoedende inwoners uit hul geld verkul, is voorverlede week deur die polisie in Velddrif vasgetrek.

Volgens kapt. Tania Helfrich, plaaslike polisiewoordvoerder, word Krause daarvan aangekla dat hy op 2 Julie verlede jaar ’n nag in die Riviera-hotel in Velddrif oorgebly het en nie sy rekening betaal het nie. Boonop is ’n TV-stel en komberse glo uit die hotelkamer gesteel.

Krause het Woensdag ’n tweede keer in verband met hierdie aanklag in die Laaiplek-landdroshof verskyn. Hy word nie meer aangehou nie.

Volgens Helfrich het Wiid en Krause albei ’n stewige misdaadrekord wat talle dwelmverwante sake en ook diefstal in plekke soos Parow, Goodwood en Mosselbaai insluit. Krause word ook betrek by die diefstal van ’n motor en is voorheen aan die onwettige besit van ammunisie skuldig bevind.

Die Darling-polisie het Dinsdag aan Weslander bevestig dat ’n hofsaak ook tans daar aan die gang is met betrekking tot ’n klag van diefstal teen Krause.

Charissa Griessel, woordvoerder van die Sasolburg- en Vaalpark-gemeenskapspolisiërings-forum, het vandeesweek aan Weslander gesê hulle het onlangs ’n persverklaring uitgereik wat die publiek waarsku teen die paartjie se onderduimse aktiwiteite. “Ons het sedertdien gehoor hulle is iewers aan die Weskus,” het sy gesê. Talle waarskuwings is op Facebook uitgereik deur gastehuiseienaars vanoor die land, wat glo deur die paartjie ingeloop is.

Weslander wou by die polisie weet waarom die paartjie steeds op vrye voet is as daar landwyd soveel klagtes oor hulle is.

Die antwoord is oënskynlik nie so eenvoudig nie.

Die Darling-polisie het aan Weslander gesê hulle kan net oor hul eie saak uitbrei en nie namens ander polisiekantore praat nie.

Volgens kapt. Helfrich kan “net ’n landdros of vrederegter ’n lasbrief uitreik teen ’n persoon wat ’n misdaad gepleeg het en dan nie die hofverrigtinge bywoon nie. ’n Lasbrief kan ook teen ’n persoon uitgereik word waar daar oorweldigende bewyse (’n prima facie-saak) teen die persoon is.”

Krause het tot op hede glo getrou die hofverrigtinge in Darling en Laaiplek bygewoon.

“Oor die ander beweerde misdaadaktiwiteite van Juan-Dean Krause en Donre Wiid kan net bespiegel word, want veral Krause is lief daarvoor om met sy naam en van te speel. Hy het hom ook al voorgestel as John-Lee Crause,” verduidelik Helfrich.

Die polisie waarsku weer die publiek teen die paartjie om te voorkom dat hulle slagoffers van misdaad word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.