Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Beskuldigde ‘toon geen berou’ ná kinders se moord

Haar kinders is vermoor omdat sy glo geweier het dat ’n getroude man haar vriendin vir seks gebruik.

Die Louwville-gemeenskap in Vredenburg is woedend nadat Frizaan Adams (25) se kêrel haar twee kleuters, Conray (1) en Faith (3), verlede Woensdagoggend na bewering koelbloedig vermoor het.

Frizaan het in Desember uit haar ouerhuis in Appiesstraat, Witteklip, getrek om by haar vriend, Derick Kalmeyer (49), in ’n wendyhuis in Houtkapperstraat, Louwville, te gaan woon. Denise Adams, Frizaan se ma, sê sy en haar man het die verhouding van die begin af nie goedgekeur nie.

Die moord het in die donker ure van verlede Woensdagoggend by die huis in Houtkapperstraat plaasgevind. Frizaan het saam met Faith en Conray op die bed in die wendyhuis geslaap. ’n Vriendin, Christolene (23), en dié se dogtertjie was ook op die bed. Derick en sy twee getroude “pêlle” het glo van ’n drinkery af huis toe gekeer en die vroue kom wakker maak. Volgens Frizaan wou een van die vriende met Christolene seks hê.

Frizaan het glo aan Derick gesê hulle moet vir Christolene uitlos en dat sy nie kan glo dat hulle so iets voorstel nie, aangesien Christolene Derick se broerskind se verloofde is. Én boonop is die beluste vriend nog getroud ook.

Derick het glo sy mansvriende weggesien, waarna hy met ’n koevoet en ’n mes teruggekeer het. Hy was glo woedend omdat Frizaan hom voor sy vriende en kollegas laat sleg lyk het. ’n Stoeiery het ontstaan.

Volgens Frizaan het Derick se suster, Marietjie Fienies, uit die hoofhuis gekom toe sy die geraas hoor.

Marietjie was glo bang dat Derick Frizaan sou seermaak. Sy het Frizaan in ’n kas in die hoofhuis gaan wegsteek.

Intussen het Christolene glo met Derick gestoei, maar sy het ook kort daarna na veiligheid gehardloop. Niemand het gedink Derick sal die kinders seermaak nie.

Frizaan het haar dogtertjie buite die huis hoor huil. “Gaan haal my kinders!” het sy by Marietjie gepleit.

Marietjie het glo gesê Derick sal hulle nie seermaak nie, want hy is te lief vir hulle.

Oomblikke daarna het Faith stil geraak en Frizaan sê sy het geweet daar’s fout. Faith was toe reeds dood.

Volgens die Vredenburg-polisie is Faith sewentien keer met ’n mes gesteek. Conray is elf keer gesteek, waarna hy deur ’n toe venster in die huis gegooi is.

Die polisie was vinnig op die toneel en het Derick Kalmeyer in hegtenis geneem.

Volgens kapt. Tania Helfrich, woordvoerder van die Vredenburg-polisie, het Kalmeyer geen emosie of berou ná die gruvoorval getoon nie, en ook nie by sy eerste hofverskyning Vrydag 3 Mei by die Vredenburg-landdroshof nie.

Hy het selfs glo vir die mense wat die hofverrigtinge bygewoon het tong uitgesteek voordat hy met die vangwa weggeneem is.

’n Groep mense het die Adams-gesin by die hof kom ondersteun en daarop aangedring dat Kalmeyer eerder nie uitgelaat moet word nie, “want die gemeenskap sal hom doodmaak”.

Sondag het ’n reuseskare voor die huis in Houtkapperstraat vir ’n kerkdiens bymekaargekom waar die gemeenskap eer aan die twee gestorwe kinders met trane, gewyde sang en brandende kerse gebring het.

Sprekers uit die gemeenskap het dwelms en geweld in die woonbuurt veroordeel.

Kapt. Helfrich het bevestig dat Kalmeyer ’n stewige misdaadrekord het. Hy is tans op parool. Hy het in Mei 2018 uit die tronk gekom vir ’n saak wat in Augustus 2010 teen hom gemaak is. Hy het ’n tienermeisie (16) met ’n mes aangeval waarna hy skuldig bevind en 12 jaar tronkstraf opgelê is.

In 2003 is hy skuldig bevind aan ’n klag van aanranding met die doel om ernstig te beseer. Hy is 11 jaar tronkstraf opgelê.

In 1998 het hy agt maande gevangenisstraf gekry omdat hy nie sy paroolvoorwaardes nagekom het nie.

In 1995 is hy ’n jaar gevangenisstraf opgelê, ook vir aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Volgens Denise koester hulle nie ’n wrok teen die Kalmeyers nie. “Hulle is regtig ordentlike en goeie mense. Derick is die enigste swartskaap,” sê sy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.