Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Betogings eindig in geweld

WESKUS – Verskeie mense is gedurende verlede week se gewelddadige betogings oor vervoer- en arbeidskwessies in Vredenburg en Saldanha in hegtenis geneem.

Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n plaaslike polisiewoordvoerder, is aanvanklik betoog “teen buitelanders wat as vragmotorbestuurders aangestel word.”

“Dit was ’n nasionale kwessie, maar met die opsweping van ander groepe met betrekking tot dié vervoerkwessie het die polisie die publiek gewaarsku om uiters versigtig met die gebruik van hul voertuie en vragmotors te wees aangesien dit geblyk het dat mense dié tyd gebruik om te plunder en oor alle onopgeloste kwessies van die verlede betoog,” het Helfrich verduidelik.

In Vredenburg het betogers van 7 Julie af by George Kerridge bymekaar gekom en volgens Helfrich is die hulp van Paarl se binnelandse beveiligingseenheid (Pops) as polisieversterking ontbied toe dit blyk die betogers is besig om gewelddadig te raak.

“Tot nou is 28 verklarings bekom van buitelanders wie se winkels in dié tydperk geplunder is.”

Vier plaaslike inwoners is in hegtenis geneem en het Vrydag 10 Julie in die Vredenburg-landdroshof op aanklagte van openbare geweld, huisbraak en diefstal verskyn.

’n Soortgelyke gewelddadige situasie het in Saldanha ontvou en is deur AO. Yolanda Kotze, woordvoerder van Saldanhapolisie, bevestig. Net soos in Vredenburg is bande aan die brand gesteek en betogers het klippe gegooi en eiendom beskadig of geplunder.

Berigte van broeiende onrus in die taxi-gemeenskap is uit ander dorpe, waaronder St. Helenabaai, ontvang. Hierdie berigte het gelei tot die polisie se waarskuwing aan ondernemings wat hul personeel met maatskappyvoertuie of -bussies na hul werksplekke vervoer.

Die voortslepende kwessie van taxi-bestuurders se ongelukkigheid teenoor maatskappye “wat hul besigheid steel”, is een waaroor Weslander oor die jare al male sonder tal berig het.

’n Video is via WhatsApp gesirkuleer waar ’n groep betogers met werknemers van die hawe-owerheid, Transnet Ports Authority (TPT), by die Saldanhahawe-ingang vergader om hul griewe te deel ten opsigte van die vermeende aanstelling van buitelanders of mense van ander provinsies in vragmotorbestuurdersposte.

Weslander het navraag aan Lipuo Lebekeng, woordvoerder van die TPT, gestuur en sy het die vergadering met die betogers bevestig.

Lebekeng is gevra of die betogers se klagtes meriete het en, indien wel, of die TPT moontlike aanpassings in sy aanstellingsproses in die toekoms sal aanbring om meer plaaslike mense te akkommodeer.

Lebekeng het aangedui dat die TPT besig is om volledige terugvoering met betrekking tot die kwessie saam te stel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.