Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Bewaring wink vir Bokkomlaan

Bewaring van Bokkomlaan in Velddrif is hoog op die munisipaliteit se agenda.

Velddrif se Bokkomlaan met sy ryk geskiedenis en outentieke karakter is deesdae een van die Weskus se mees gesogte toeristetrekpleisters.

’n Groot debat heers egter oor die toekoms van hierdie prentjiemooi stofstraat teen die oewer van die Bergrivier.

Baie meen die bokkombedryf is besig om uit te sterf en ’n groot vraagstuk oor transformasie in die toerismebedryf het plaaslik ontstaan.

Die Bergrivier-munisipaliteit het in Junie ’n sessie met belanghebbende partye gehou om die toekoms van hul geliefde Bokkomlaan te bespreek.

Sowat 116 inwoners het die vergadering saam met amptenare en raadslede van die Bergrivier-munisipaliteit bygewoon.

Bokkomlaan se geskiedenis strek terug na die middel 1700’s toe bokkoms (gedroogde, gesoute vis) aan die Nederlandse Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC) verskaf is. Bokkoms was glo destyds ’n stapelvoedsel van die slawe.

Die 12 historiese vishuisies in Bokkomlaan is met skulpe en klei gebou en word gebruik vir die produksie van bokkoms.

Sowat 95% van die land se bokkoms word in Velddrif geproduseer en deesdae word hierdie gedroogde vishappie as fynproewerskos beskou.

Ongelukkig is hierdie ambag besig om uit te sterf en min mense beskik nog oor die vaardighede om bokkoms op die tradisionele manier te produseer. Modernisering van die bedryf bedreig die unieke bekoring van Bokkomlaan.

Bokkomlaan (geleë op ’n deel van Erf 486) is in Januarie 2018 gesoneer as ’n bewaringsgebied wat tradisionele visbedrywighede en toerisme toelaat, dit wil sê die produksie van bokkoms op die tradisionele manier, hengel, koffiewinkels, ’n kunsateljee, bootritte en uithuur van toerusting soos kano’s.

Bergrivier se ruimtelike ontwikkelingsraamwerk (2012-2017) erken Bokkomlaan as erfenishulpbron en toerismekern.

Toerbusse stop gereeld hier, dis ’n voëlkykersparadys en fotograwe stroom deurlopend na hierdie beskeie grondpad langs die Bergrivier om die pragtige natuurskoon, die historiese geboue, die bokkombedryf en visserskuite af te neem.

Verskeie aansoeke om grondbesit is oor die jare ingedien, asook aansoeke vir die alternatiewe gebruik van die eiendom en sakeaktiwiteite.

Die strukture in Bokkomlaan is voor die ontstaan van die dorp opgerig.

Elf van Bokkomlaan se huurkontrakte verval in November en Vishuis-restaurant se kontrak in November 2019.

Volgens die munisipaliteit moet daar goed beraadslaag word oor nuwe huurkontrakte, veral in die lig van beoogde transformasie in die plaaslike toerismebedryf en sakegeleenthede vir voorheen benadeelde inwoners.

Bokkomlaan het ook heelwat uitdagings wat infrastruktuur betref, soos ’n gebrek aan toiletgeriewe en parkering vir busse, asook geen waternetwerk vir die individuele geboue nie en die feit dat die straat onder die 5 m hoë kontoerlyn van die hoogwatermerk geleë is.

Bokkomlaan oorstroom gereeld in die reënseisoen.

Omdat die geboue so oud is, moet dit bewaar word en slegs klein verbeterings aan die strukture word toegelaat.

Bokkomlaan het sedert Januarie vanjaar erfenisstatus en die gebied nou ’n erkende plaaslike erfenisterrein.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.