“Tree saam teen misdaad op, maar moenie misdaad pleeg nie!”
Dít is weer eens die Vredenburg-polisie se pleidooi aan die publiek nadat sommige inwoners eie reg gebruik het.
Volgens kapt. Tania Helfrich, plaaslike polisiewoordvoerder, is ’n ernstig beseerde man Sondag 21 Februarie in ’n oop veld naby Masiphatisane Primêr ontdek.
“Die slagoffer is deur die gemeenskap aangeval omdat hy glo elektriese kabels gesteel het,” het Helfrich verduidelik.
Die man is na die Vredenburg- provinsiale hospitaal gebring waar hy later aan sy beserings beswyk het.
Dieselfde oggend is ’n ander man (33) ook deur die gemeenskap aangerand omdat hy elektriese kabels by Steve Tshwete in Vredenburg gesteel het.
In ’n ander voorval het ’n man (28) sy stiefpa (57) Donderdag 18 Februarie om 21:00 aangerand. Die stiefseun het Maandag in die Vredenburg-landdroshof verskyn. Ook is ’n man (25) glo deur sy kollega (35) “berispe”, waarna die jonger kollega die ouer een aangerand het. Die beskuldigde het Woensdag in die Vredenburg-landdroshof verskyn.