Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Boet At onthou vir staaltjies, perde en liefde vir die plaaslewe

Die bekende Weskus-boer, Boet At Loubser, is Maandagoggend in die rype ouderdom van 96 vreedsaam op Koningsvlei, die plaas in Langebaanweg waarvoor hy so lief was, oorlede.

Loubser was nog altyd gek oor sy lewe op die plaas, hy was ’n storieverteller van formaat en onder meer bekend vir sy pragtige perde.

In ’n brief wat Clifford Rauch in 2012 aan Weslander gestuur het, skryf hy oor toentertyd se “opwindende skoudae” aan die Weskus: “Vrydag geen skool nie, want ons gaan skou toe! Boet At Loubser, ’n ware galjoen uit die ou dae met sy groot perdekar, die buiteryers en agt blinkvet Vlaamse perde voor.

“Klopdisselboom al om die skouveld met die klap van Oom Boet At se sweep en stormwalle wat trek.”

Loubser het oor die jare telkemale in die Weslander en ander koerante verskyn en dít is volgens sy familie ’n getuigskrif van die “diep spore” wat hy in plaaslike landboukringe getrap het

Loubser was as jongman ’n talentvolle atleet en het in 1973 ’n rol in die Suid-Afrikaanse film, Die spook van Donkergat, vertolk, wat in die Weskus afspeel en verfilm is.

Volgens Loubser se kinders het hy ’n vol, gelukkige lewe gelei. Hy het in ’n arm gesin grootgeword en volgens sy jongste seun, Nicolaas, was dit destyds ’n trotse oomblik vir sy pa toe hy die spogplaas, Koningsvlei, gekoop het, wat voorheen aan die “ryk Smitte” behoort het.

Loubser se gesondheid het die afgelope jaar vinnig agteruit gegaan en hy was bedlêend met sy dood. Sy kinders bedank sy versorger, Nadia Arendse, vir haar omgee en onbaatsugtige diens aan hul pa.

Loubser se geliefde eggenoot, Susan, is reeds 13 jaar gelede oorlede.

Daar is nog nie bevestigde begrafnisreëlings nie, maar aangesien baie mense die geleentheid sal wil bywoon, wil die familie ’n byeenkoms op die plaas reël om Boet At Loubser se lewe te vier. Dit sal eers gebeur wanneer die nasionale inperking se regulasies vir sosiale byeenkomste opgehef word.

Loubser laat sy vier kinders Dirk, Jacobus, Marlien en Nicolaas agter, asook vier kleinkinders.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.