Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Bootbotsing

“As ons tien minute langer geneem het, het hy dalk gesterf.”

Só sê Johan Bester van Velddrif wat Saterdag met die hulp van twee ander plaaslike inwoners ’n man se lewe gered het.

Bester vertel hy en sy vriende het Saterdag omstreeks 17:00 by die Riviera-hotel in Velddrif ontspan toe ’n gemotoriseerde rubberboot met ’n groot geraas op die Bergrivier in die rigting van Laaiplek verbygejaag het.

Volgens Bester het die bestuurder, volgens sy mening, ietwat onverskillig gery en die musiek het glo kliphard vanaf die boot geblêr.

“ ’n Paar minute later het die polisie by die hotel aangekom en ons gevra of ons weet waar die ongeluk met die rubberboot plaasgevind het,” vertel hy.

Iemand het intussen van die Laaiplek-hotel gebel om te laat weet die ongeluk het dáár naby op die rivier plaasgevind.

Die polisie is daar weg en Bester het besluit om ook ondersoek te gaan instel.

Met sy aankoms het Bester beseerde mense en omstanders op die grasperk voor die hotel gesien. Volgens Bester het die rubberboot teen ’n seiljag gebots wat by Rooibaai vasgemeer was. Die insittendes is glo van die rubberboot afgeslinger en het amper 1 km ver tot by die Laaiplek-hotel gedryf.

Die erg beskadigde rubberboot was besig om see se kant toe te dryf en volgens die omstanders was daar nog iemand op die boot vasgekeer.

Bester het vasgestel dat die polisie glo nie betrokke wil raak nie en hy het blitsvinnig na sy vriend Dolla Brand in Port Owen gery. Die twee mans is van Port Owen met Brand se 50 perdekrag-vissersbakkie rivier af na die mond, waar die stukkende rubberboot reeds tot in die see gedryf het.

“Ek het gedink die man is dood toe ons hom op die boot kry,” erken Bester.

Bester sê die man kon nie sy oë oopmaak nie en hy was glo baie deurmekaar.

Volgens Bester was die man se bene vasgepen, wat veroorsaak het dat albei sy bene morsaf net bo die knieë gebreek het. Sy arms is ook glo gebreek en hy het kopbeserings opgedoen. Bester vertel ook die man het baie bloed verloor.

Intussen het nóg ’n inwoner, Tyron Basson, met sy boot aangekom om hand by te sit.

“Ons wou nie die man optel of beweeg nie aangesien hy erg beseer was. Ons het op die see vir die nooddienste gewag en toe dit begin donker word het ek besef ons sal die man moet oorlaai,” sê Bester.

Die beseerde man is op die nette in Basson se visbakkie neergelê en hulle het met hom na die Laaiplek-hawe gevaar waar paramedici en die Nasionale seereddingsinstituut (NSRI) pas aangekom het.

Mike Shaw, die NSRI-Mykonos se bevelvoerder, het in ’n persverklaring gesê sy span is 18:56 ingelig dat ’n plesierboot op die Bergrivier in ’n botsing betrokke was.

Met die NSRI se aankoms op die toneel het hulle die paramedici bygestaan om die drie ernstig beseerde slagoffers van die botsing medies te versorg.

Vervolg op bl. 2

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.