Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Broeiplek vir misdaad

’n Gesteelde voertuig is Sondag by die dig beboste munisipale grond in Hopefield gevind.

Nou sê die bure op die kleinhoewe langs die stuk grond, wat sowat 70 hektaar groot is, “dit is al lankal ’n broeiplek vir misdaad.”

Die buurman, JJ Schoeman van die kleinhoewe 405, geleë op die ou Vredenburg-pad naby Turnerland, is Saterdag dáár naby deur ’n boosdoener met ’n mes in die nek gesteek voordat daar by sy eiendom ingebreek is terwyl sy vrou met hom na die provinsiale hospitaal in Vredenburg gejaag het.

Hy vertel sy slagaar is met millimeters gemis en daarom leef hy genadiglik en kon hy sy storie met Weslander deel.

Broeiplek vir boosheid

Schoeman sê daar is gereeld inbrake by geboue op hul eiendom van 2 ha. Skelms kan glo maklik in die bosse op die munisipale grond langsaan wegkruip. “Boemelaars slaap in die nag dáár en maak vuur, kinders hang in hul skooluniforms daar uit, die plek lê vol drankbottels en rommel en skelms kruip in die bosse weg en beroof mense,” sê Schoeman.

Toe hy en sy vrou Sondag hoor van die verlate Mitsubishi Pajero wat op die stuk grond langs hulle aangetref is, was dit die laaste strooi. Gerugte oor ’n lyk wat later naby die motor in die bos gevind is, het ook die ronde gedoen, maar die Hopefield-polisie het Woensdag aan Weslander bevestig dat dit net ’n gerug was. Volgens kapt. Christo de Wet van die Langebaan-polisie is die motor Vrydag in Langebaan gesteel.

AO Nella Zeman, die ondersoekbeampte, sê beeldma­teriaal van kringtelevisie­kameras wys die diewe het Langebaan Saterdagoggend 01:30 met die voertuig verlaat. Die Pajero is nog by die Langebaan-polisiekantoor en moet volledig vir forensiese bewyse ondersoek word alvorens dit aan die eienaar terugbesorg kan word.

“Die munisipale grond langs ons is die geskikte plek om ’n gesteelde voertuig te laat en ongesiens te vlug. Iets moet hier gedoen word om die plek te beveilig,” reken Schoeman.

Volgens Schoeman stap kinders soggens in die donker deur die veld skool toe en talle vroue gebruik die grondpad om soggens na hul werk en saans terug huis toe te stap.

Hy sê die munisipaliteit snoei nie die bosse gereeld weg nie en maak nie die rommel skoon nie. Volgens hom is daar ook nie straatligte in die gebied nie en dit skep verder die ideale omstandighede vir skelms om met hul onderduimse aktiwiteite voort te gaan.

Die Saldanhabaai-munisipaliteit het ontvangs van Weslander se navraag erken en bevestig dat die grond aan die munisipaliteit behoort.

Ethne Lawrence, ’n woordvoerder van die munisipaliteit, sê die betrokke munisipale afdeling stel volledige kommentaar vir Weslander saam.

Uit die ‘bloute’ met mes aangeval

Schoeman vertel die aanval op hom het Saterdagaand “uit die bloute” gebeur toe hy lekkers vir die kinders by die huiswinkel naby hul kleinhoewe gaan koop het. Hy is nie seker wat die motief vir die aanval was nie, maar vermoed die aanvaller wou hom beroof.

Iemand het agter hom by die winkel gestaan en skielik was daar iets teen sy nek. “Ek het militêre opleiding en het instinktief geblok. My vinnige reaksie het my lewe gered.”

Die aanvaller het gevlug en Schoeman het bloeiend deur die beboste veld huis toe gehardloop om hulp te soek. Inbrekers het later op die kleinhoewe toegesak terwyl Schoeman en sy vrou nog by die hospitaal was. Vervolg op bl. 7.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.