Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Buurtwag maak skoon

Die nuut gevestigde Saldanha-buurtwag maak groot opslae in die dorp.

Weens die buurtwag se insette daal misdaad in dié gebied en misdadigers word gou-gou vasgetrek.

Weslander het meer by Eugene Petzer (voorsitter) en Stephan Hamilton (oplei­ding) gaan uitvind.

Die Saldanha-buurtwag is in Februarie 2019 gestig. Volgens Stephan Hamilton, opleier van die patrollielede, het die buurtwag binne die eerste week 83 inhegtenis­nemings gemaak.

“Tans word al hoe minder mense vasgetrek en in hegtenis geneem weens bewusmaking onder die inwoners van die dorp” sê Hamilton.

Volgens Eugene Petzer, voorsitter van die Saldanha-buurtwag, is daar tans 70 patrollielede wat met twee uur skofte elke dag die dorp patrolleer.

Enigiemand is welkom om aan te sluit. Skakel die nommer op die advertensie. Buurtwaglede moet eers deur die polisie goedgekeur word, opleiding ondergaan en vingerafdrukke moet geneem word. Die opleiding brei uit oor die “moets en moenies van patrollie ry” verduidelik Petzer.

Die opleiding duur twee ure ná die polisie ondersoek en vingerafdrukke klaar is.

“Ons het baie suksesverhale van inhegtenisnemings, gesteelde goedere wat teruggevind is en verdagtes wat vasgetrek is. Dit is te veel om te noem,” spog Petzer.

Elke dag beskou hy as ’n suksesverhaal omdat patrollielede elke dag ’n potensiële misdaad voorkom.

Die buurtwag is in die proses om by die departement van gemeenskaps­veiligheid te registreer en is reeds deel van die Saldanhabaai-gemeenskaps­veiligheidinisiatief.

Daarom werk die buurtwag ook nou saam met die polisie, asook munisipaliteit en kan hulle die toepaslike owerhede in kennis stel wanneer ’n buurtwaglid op iets verdag afkom.

Volgens Petzer gaan die buurtwag ook dikwels saam met Saldanha se polisielede na klopjagte waar ook groot suksesse behaal word.

Saldanha-buurtwag is afhanklik van skenkings, hoofsaaklik om brandstofonkostes te dek.

Petzer bedank die sakeondernemings en inwoners van die dorp vir hul deurlopende finansiële bystand, maar vra ook om hulp vir enige ander donasies om die geld wat patrollielede self uitgee, te verminder.

Donasies gaan hoofsaaklik vir brandstof, maar ook vir veiligheids­toerusting, glimbaadjies en alledaagse uitgawes soos skryfbehoeftes.

Volgens Hamilton is die buurtwag nie net verantwoordelik vir patrollie in die dorp nie, maar monitor ook die dorp deur kringtelevisie dop te hou in ’n beheerkamer.

“Daar is heelwat afgetrede mense wat die kameras dophou en dan aanmeld wanneer iets verdag lyk.

“Die take wat die buurtwag verrig, groei teen ’n vinnige spoed, daarom is enigiemand welkom om deel te wees en aan te sluit. Die spreekwoord lui nie verniet vele hande, ligte werk nie. Sien die advertensie vir enige ander navrae.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.