Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Claassen in sop oor sêgoed

Sammy Claassen, ANC-raadslid van die Bergrivier-munisipaliteit, is deur sy party aangekla oor sy beweerde neerhalende uitlatings op sosiale media teenoor die ANC.

Claassen het Dinsdag aan Weslander gesê sy tugverhoor is vir Vrydag in die ANC se provinsiale kantoor geskeduleer.

Dit kom nadat Claassen vir die ANC-raadslid van Saldanhabaai, Siya­bulela Mafenuka, verlede week by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie gaan aangee het omdat hy glo diskrimine­rende stellings oor bruin mense by die ANC se kieskonferensie in Citrusdal gemaak het.

Volgens Claassen het hy ná ontbyt na die konferensielokaal gegaan en hy was besig om die registrasievorm in te vul toe Mafenuka, glo sigbaar kwaad, lukraak vir hom gesê het: “Julle Khoi-San coloureds is nie welkom hier nie.” Benewens Claassen se posisie in die ANC is hy ook die stigter van die Khoi-San Defiance Campaign-aktivistegroep wat sedert Februarie vir bruin mense se regte veg.

Claassen is teleurgesteld oor die ANC se “traak-my-nie-agtige reaksie” op die klag wat hy ingedien het.

In ’n persver­klaring het Neville Delport, streeksekre­taris van die ANC, in ’n neutedop geskryf daar word kennis geneem van Claassen se klag, maar die party verwerp “enige voortgesette verskansing van maatskaplike verdeeldheid en ver­oor­deel enigiemand wat aanvoer die ANC poog om rasse te verdeel.”

Delport het ook aan Weslander gesê daar is nie rassistiese aanmerkings teen­oor Claassen by die konferensie gemaak nie en daar was oorwegend bruin mense by dié geleentheid.

Claassen sê hy het verwag die ANC moet sy klag ondersoek en om op ’n “professionele manier” te bepaal of daar meriete in is.

Volgens Delport was Claassen sy per­soon­like woordvoerder in die ANC, maar sedert Claassen sewe maande gele­de met sy Khoi-San-mediaveldtog begin het, is hy uit hierdie amp verwyder oor “botsende belange”.

Delport het aan Weslander gesê Claas­sen het herhaaldelik, sedert Februarie op Facebook en met die uitreik van Khoi-San-persverklarings via WhatsApp “onwa­re stellings en leuens” oor ANC-lede of -strukture kwytgeraak.

Delport vermoed Claassen se Khoi-San Defiance Campaign word onder die dek­man­tel van ’n aktivistegroep aangebied, maar Claassen het eintlik ’n politieke agenda daarmee.

“Ek het hom (Claassen) al ’n paar keer gevra as hy dan só sterk oor bruin mense se regte voel, waarom het hy nie met dieselfde passie hierdie doel nage­streef toe hy die DA-burgemeester van die Bergrivier-munisipaliteit was nie?”

Delport glo ook Claassen het suur druiwe omdat hy nie as voorsitter by die konferensie gekies is nie.

Claassen neem egter aanstoot hieroor. Hy sê daar is hopeloos te min bruin verteenwoordiging in die ANC-Wes-Kaap se leierposisies en die huidige leiers is nie ’n weerspieëling van die inwoners, wat grotendeels bruin mense is nie. Volgens hom groei die Khoi-San Defiance Campaign se steun goed en het die groep al “heelwat suksesse vir al die mense – wit, bruin en swart – behaal”.

Claassen wil vir Delport, Faiz Jacobs (provinsiale sekretaris) en Khaya Maqaxa (waarnemende provinsiale voorsitter) na die gelykheidshof neem omdat hy voel sy menseregte is geskend.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.