Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Covid-19 onder plaaswerkers kwel

Die Wes-Kaapse departement van gesondheid is tevrede met die plaasbestuur se samewerking ná hul besoek aan die Broodkraal-druiweplaas naby Piketberg.

Die besoek is afgelê ná die gerug en vrese dat die Covid-19-virus onbeheerd onder duisende seisoenale plaaswerkers sal versprei.

Baie van die plaaswerkers is egter steeds nie gerusgestel deur die departement se terugvoering nie.

Die Le Roux-groep waaronder die plaas bestuur word, “ontken ten sterkste dat werknemers in gevaar gestel word deur sy arbeids- en of behuisingspraktyke.”

Volgens plaaswerkers wat sedert die departement se besoek anoniem met Weslander gepraat het, is heelwat van hul kollegas positief vir die virus getoets. Volgens die beweerde gerug is dié werkers teruggestuur na hul blyplekke op die plaas, waar tien tot 15 mense saam in een kamer moet tuisgaan.

Een van die vroulike werkers wat bedags in die wingerde op die plaas werk, het Dinsdag aan Weslander gesê die siek mense mag huis toe gaan, maar die meeste van hulle woon in ander provinsies, wat beteken hulle gaan die seisoen misloop en sal daarom nie betaal word nie. Dit is ook haar mening dat mense nie wil huis toe gaan nie, omdat hulle nie hul bejaarde ouers of ander familielede wil gaan aansteek nie.

“Hulle bly eerder op die plaas, maar ons voel nie die afsonderingsfasiliteit is voldoende nie.” Rhime Laubscher het in ’n persverklaring wat die Good- politieke party op 13 Januarie uitgereik het, bevestig dat die party ook verskeie oproepe van gegriefde plaaswerkers oor die beweerde situasie ontvang het. Laubscher is Good se voorsitter vir wyk 6 van die Bergrivier-munisipaliteit.

Sandra Maritz, ’n woordvoerder van die gesondheidsdepartement vir die Weskus-streek, het Maandag (18 Januarie) in ’n persverklaring die departement se terugvoering ná hul besoek aan Broodkraal uiteengesit.

“Die span wat die pandemie plaaslik monitor, het bevestig dat daar op 14 Januarie agt aktiewe gevalle van Covid-19 op die plaas was,” lui die skrywe.

“Die samewerking van plaasbestuurders is uitstekend,” reken Aletta Haasbroek wat die moniteringspan in die Weskus-distrik lei. Sy sê ook die plaas se afsonderingfasiliteit is vroeër gedurende die pandemie ingerig, juis sodat seisoenale werkers nie die plaas hoef te verlaat terwyl hulle afgesonder word nie. Sy wil die gemeenskap verseker dat die moniteringspan baie vinnig reageer wanneer enigiemand se toets positief is.

“Die departement bly in kontak met boere in die omgewing om hulle en hul werknemers gedurende hierdie uitdagende tyd van die pande­mie te ondersteun,” het sy gesê.

Gerrit de Beer, bedryfshoof van die Le Roux-groep, het in ’n persverklaring aan Weslander verduidelik dat alle veiligheidsmaatreëls soos deur Covid-19-wetgewing bepaal, streng by Broodkraal toegepas word. Die werkgewer sal “ten alle tye sy werknemers met respek en menswaardigheid hanteer. Broodkraal sal altyd poog om werknemers te beskerm teen ongegronde aantygings wat ’n nadelige gevolg vir die besigheid en sy mense mag hê.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.