Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Derduisende verlore aan infrastruktuur

Die gereelde vandalisering en diefstal van infrastruktuur is ’n duur en problematiese uitdaging wat tot vele kragonderbrekings, gesondheidsgevare en groot ongerief lei.

Die pompstasie by Middelpos- en Galjoenstraat in Saldanha is verlede Donderdagnag weer gevandaliseer.

Die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) het gesê iemand het die kabels in die nag gesteel en die pompe erg beskadig.

Middelpos, Tabakbaai en die gebied tussen Diazweg en Galjoenstraat is deur die voorval geraak.

Volgens ’n verklaring van die SBM is drie rioolsuigvragmotors ontbied om te keer dat riool uitlek of oorloop.

Die skade aan die pompstasies was egter van so ’n aard dat rioolstorting slegs versag en nie meer gekeer kon word nie. Die diens is tydelik onderbreek terwyl rioolsuigvragmotors gewerk het om die situasie onder beheer te bring en tegnici die pompstasies herstel het.

Hierdie pompstasie het al ’n paar keer onder kabeldiewe en vandale deurgeloop.

Een voorbeeld hiervan was in Februarie 2019 toe Weslander berig het oor die inwoners van Galjoenstraat wat kla oor ’n stroom rioolwater in die woonbuurt waarin kinders speel. Die inwoners het die alewige stank – dit was weens die pompstasie wat gereeld deur diewe geplunder word – as “onhoudbaar” beskryf.

Ethne Lawrence, die SBM-woordvoerder, het aan Weslander gesê skade aan die pompstasie het net in die 2018-boekaar alleen reeds sowat R332 200 beloop.

Plundering van die pompstasie – in een enkele maand – het die munisipaliteit op daardie tydstip R61 500 uit die sak gejaag om die riool drie keer vir tot 24 uur op ’n keer uit te pomp.

In Maart vanjaar was kabeldiewe weer bedrywig by ’n mini-substasie wat tot kragonderbrekings in gedeeltes van Diazville gelei het.

Jacobsbaai is op dieselfde dag sowat 24 uur sonder elektrisiteit gelaat nadat kabeldiefstal en vandalisme veroorsaak het dat ’n kraglyn van 2 km herbou moes word.

In Februarie en Maart het inwoners van Vredenburg gekla oor mangatdeksels wat weer gesteel is.

Lawrence het gesê gegotestaal- mangatdeksels word hoofsaaklik gesteel om verkoop te word en dat die vervangingskoste van ’n deksel R1 500 beloop.

Gordon Brown, ’n inwoner van Galjoenstraat, het al telkemale oor die probleme by die pompstasie in sy straat gekla, en is van mening dis dwelmverslaafdes wat die munisipale infrastruktuur steel.

“Die probleem is dat skrootwerwe die goed by die skelms koop,” het Brown gesê.

Die Saldanha- en Vredenburg-polisie het beaam dat ’n mark vir diewe geskep word wanneer mense gesteelde goedere koop.

“Maak altyd seker jy weet waar jou aankope vandaan kom, aangesien die koop van gesteelde eiendom ’n strafregtelike klag is wat jou duur te staan kan kom,” het kapt. Tania Helfrich, ’n plaaslike polisiewoordvoerder, gewaarsku.

Die SBM doen weer ’n ernstige beroep op inwoners om te help om misdadigers wat infrastruktuur plunder en steel of dit beskadig, aan die pen te laat ry.

Meld asseblief enige verdagte aktiwiteite en die vernietiging van infrastruktuur so spoedig as moontlik aan.

SBM sê inwoners moet, wanneer hulle verdagte aktiwiteite aanmeld, soveel inligting moontlik aan die owerhede deurgee terwyl voorsorg getref moet word om veilig en waaksaam te bly.

“Ons wil asseblief ’n adres hê, of weet in watter omgewing die voorval plaasvind. Gee fotografiese bewyse waar moontlik, die voertuig se registrasienommer en beskrywing van die verdagtes. Anonieme wenke word verwelkom,” aldus ’n SBM-skrywe.

Meld vandalisme aan by: . Wetstoepassing: 022 701 6912. By SBM se 24-uur-inbelsentrum: 022 701 7061. Die blitspatrollie: 10111. Jou plaaslike polisiekantoor, of. Jou wyksraadslid.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.