Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘Die pad na sukses is alles behalwe maklik’

Die twee se storie begin op ’n stoep in die hartjie van Franschhoek. Deur die noodlot het hulle by dieselfde werk geëindig. ’n Vriendskap vol lag, pret en simpel wees het gegroei en hul liefdesverhaal geword.

Wie is die meer romantiese een tussen julle twee?

Annelize: Rudolph is baie meer romanties as ek. Hy verras my gereeld op vindingryke maniere en beplan slinkse bederfies en soms ’n wegbreek iewers heen.

Omdat romantieswees nie juis in my aard is nie en hy dit glad nie verwag nie, is dit gewoonlik ’n groot verrassing as ek die dag iets vir hom beplan.

Rudolph: Annelize koop altyd die mees deurdagte en gepaste geskenke.

Die resep tot ’n gesonde huwelik:

Annelize: Ons besef liefde, respek en opoffering vir mekaar is ’n daaglikse, doelbewuste keuse en dit is beter om te praat as om stil te bly. Ons leer nog elke dag.

Studies, opleiding en wat die hart laat vinniger klop:

Annelize: Ek het ’n agtergrond in die restaurantbedryf, asook binnenshuise versiering en projekbestuur.

Rudolph: Ek het aanvanklik regte studeer, maar gou besef dat my passie by kos en mense lê.

Oor groot drome en min geld:

Rudolph: Ons het in 2007 besluit ons wil eerder 100 uur per week vir onsself werk, as wat ons 48 uur vir iemand anders werk. As jy nie aan jou eie drome bou nie, bou jy aan iemand anders s’n.

Ons het die Weskus geïdentifiseer as ’n gebied met uitstekende groeipoten­siaal. Ons het hierheen getrek met min geld en groot drome.

Die hobbelrige pad na sakesukses:

Annelize: Ons het verlede jaar ons tiende bestaansjaar onder die Graze-vaandel gevier.

’n Maklike reis was dit nie. Die restaurant is ’n paar keer geskuif en ons het talle afdraaipaadjies gevolg tot by ons uiteindelike bestemming in Skoolstraat, Vredenburg.

Ervaring het ons geleer ons moet nooit te gerus wees nie en geleenthede wag om elke hoek en draai. Hulle sê Fortune favours the brave en ons leef hiervolgens. Sê eers ja, en werk dan ’n manier uit om die doelwit te bereik.

Julle lyk of julle uitstekend saamwerk. Het julle raad vir ander paartjies wat saam in ’n onderneming wil gaan? Hoe maak ’n mens dit werk?

Rudolph: Ek dink ’n mens moet jouself en jou vennoot baie goed ken en elkeen se sterkpunte goed aanwend as jy saam in besigheid met jou huweliksmaat is. Ook moet jy soms terugstaan en vertrou die ander een sal die beste besluit neem.

Ons is beslis ’n gesinsonderneming waar broer en broer, skoonsus en skoonsus, ma en skoonma en almal in die familie in ’n stadium betrokke was. Dit kan konflik by tye veroorsaak, maar wie kan dan beter omsien na jou belange as jou eie geliefdes?

Julle het twee pragtige kinders. Met al die verpligtinge by die huis en by die werk, hoe hou julle kop bo water?

Annelize: Om voltyds ’n onderneming te bedryf waar kinders betrokke is, het ook sy eie uitdagings.

Ons is gelukkig om ’n ouma en oupa in Langebaan te hê wat ons baie help. Verder is die kinders gemaklik om saam met ons by die werk te wees, as dit nie anders kan nie. Sonder ’n ondersteunings­netwerk sou dit soveel moeiliker gewees het. Ons kinders word groot in die restaurant en hulle het ook hul onderskeie takies.

Die enigste nadeel is hulle dink die geldlaai is onuitputbaar. Ons leer hulle van kleins af om entrepreneurs te wees en om kanse te waag en vrae te vra. Dit is vir ons ook belangrik om hulle van kleins af te leer om ander kleinsakeondernemings te ondersteun eerder as om te gaan eet by die restaurant met die grootste speelplek. Vat eerder die Uno-kaarte saam en eet goeie kos.

Die ruiter kom weer:

Rudolph: Ek is ’n kranige perderuiter en sal graag weer eendag hierdie stokperdjie wil beoefen . . . sodra die lewe bietjie meer rustig raak.

Op Reis met Rudolph. Sou dit nie idillies wees nie?

Ek sou graag wou toer vir ’n lewe. Op Reis met Gerrie Pretorius kon volgens my net sowel Op Reis met Rudoph gewees het. Om nuwe plekke, kulture en geregte vir ’n lewe te beproef klink idillies.

Annelize, wat verpes jy?

Ek is baie gesteld op stiptelikheid, maar met kinders gaan dit soms moeilik. Ons probeer egter om altyd betyds te wees en ons verpligtinge binne ’n aanvaarbare tyd na te kom. Onbevoegdheid van mense in hul eie veld gee my grys hare.

Annelize, vertel ons so ’n bietjie meer van jou binnenshuise versiering en jou onlangse werk by ’n lodge in Limpopo?

Ek het so twee jaar gelede my bakhandskoene finaal opgehang en voltyds na my liefde vir mooi maak teruggekeer. Ek het die afgelope twee jaar aan ’n projek in Limpopo gewerk, terwyl Rudolph die fort hou in die Weskus. Ek het natuurlik baie gereeld huis toe gekom. Afgerondheid en funksioneel-beplande ruimtes bring vir my kalmte en inspirasie. My nuwe onderneming, Vivant by Design se oogmerk is om prakties en mooi te laat saamsmelt om elke projek in perfekte harmonie te laat.

Annelize, wat het die dekor van jul pragtige restaurant in Skoolstraat inspireer?

Omdat daar ’n stigma aan ’n koffiewinkel kleef dat dit ’n kuierplek vir uitsluitlik vroue is, wou ek ’n omgewing skep waar mans net so gemaklik voel en kan ontspan. Die dekor is eenvoudig, maar met genoeg sjarme om darem steeds die dames se harte te roer. Wat is dan meer tydloos as wit en swart?

Hul resep vir geluk is in die Bybel:

Ons resep tot geluk lê opgesluit in Jeremia 17:7-8;

“Maar gelukkig is dié mense wat op die Here vertrou en hulle verwagtinge in Hom stel. Hulle is soos bome wat langs ’n rivier staan. Lang maande van droogte pla hulle ook nie, hulle hou nie op met vrugte dra nie”.

Oor toekomsplanne:

Annelize: Ek wil Vivant by Design aan die Weskus vestig.

Rudolph: Ek is besig om ’n kookskool vir kinders op die been te bring. Ek wil ’n liefde vir kosmaak by kinders kweek, sowel as ’n passie vir gesonde kos en ’n gesonde leefstyl.

Verder sal ons voortgaan om ons gaste te ontvang en te bederf met gasvryheid, goeie kos, koffie en diens. Dit is ons hoop om ons winkel ook julle tuiste te maak.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.