Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Die stem uit die graf

’n Moordslagoffer se stem word vir altyd stilgemaak wanneer die moordenaar ’n lewe neem. Die oorledene kan nie self uit die graf die skuldige uitwys nie.

Oor die jare het verskeie opspraakwekkende moorde die Weskus geruk en die mense laat praat. Die moorde en die slagoffers is ’n ruk lank in die mediakollig en dan koel almal af en vergeet. Weslander wilDie stem uit die graf ’n gereelde insetsel maak om moordslagoffers te onthou en weer aan hulle ’n stem te gee. In sommige sake het geregtigheid geskied en is die skuldiges gestraf, maar ander sake het bloot doodgeloop of sloer nog. Die moordenaars loop tussen ons rond.


.
Wie het Jo-Ann du Toit (33) van Longacres, Langebaan, vermoor? Haar lyk is op 1 Julie 2011 deur haar man, Hennie du Toit, onder haar bed gevind. In die lykskouing is bevind sy is verwurg. Volgens Weslander se berig op 7 Julie 2011 was daar geen gedwonge toegang tot die woning nie, wat moontlik daarop kon dui dat ’n deur nie gesluit was nie, of dat Du Toit die verdagte of verdagtes geken het.

Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n plaaslike polisiewoordvoerder, is geen verdagte tot op hede vir die moord aangekeer nie. Die dossier is drie jaar ná die misdaad afgesluit en sal volgens Helfrich heropen word as nuwe inligting bekend word.

. Hoewel ’n gepaste straf vir ’n moordenaar nie ’n geliefde kan terugbring nie, kon Sinodia Schutt (26) se gesin met die rouproses begin nadat haar aanvallers, Marlon van Wyk en Jerome Januarie, in Julie 2014 elk 25 jaar tronkstraf opgelê is nadat hulle ’n pleitooreenkoms met die staat aangegaan het. Die klagtes teen Ricardo Williiams is teruggetrek en Sharief Padayachee is onskuldig bevind. Schutt is op 26 Februarie 2013 in Diazville wreed met pangas vermoor.


.
Die ontbinde lyk van Lena Williams (35) van Louwville is in April 2013 in die veld langs die treinspoor in Louwville ontdek. Sy is verkrag en verwurg. Haar ID-foto – wat geneem is toe sy baie jonk was – is een van die enigste foto’s wat haar bedroefde ouers van haar het. Verder het hulle net herinneringe.

Volgens kapt. Helfrich is niemand vir haar moord aangekeer nie. En dit oor ’n tegniese punt in die regsproses.

. Onica Bakkes (24) is op 13 Julie 2013 noodlottig in die gesig en oor die kop geslaan. Haar lyk is by die vervalle Meresteijn-gebou in Saldanha gevind. Volgens Weslander se berig van 18 Julie 2013 het Bakkes sewe jaar voor die moord van haar ouerhuis in Port Elizabeth weggeloop. Haar suster het aan Weslander vertel dat Bakkes in ’n bose kringloop van dwelmmisbruik, prostitusie en bendebedrywighede beland het. Haar gesin het herhaaldelik ingegryp en haar probeer help, maar dit was tevergeefs. Pogings om haar te rehabiliteer het misluk en Bakkes het tragies gesterf. Daar is egter troos vir haar gesin in die vonnis van haar moordenaar, Johannes Cornelius Louw van Marikana, Middelpos, wat 15 jaar gevangenisstraf opgelê is.

. Die lyk van Bernadette Orphan (40) is Donderdag 3 Maart deur haar 12-jarige seun dood in hul vrieskas in haar huis op die vlootbasis in Saldanha gevind. Orphan is vermoedelik verwurg en daarna in die vrieskas, onder vleis, gelaat. Jaftha Edward Herrings is op aanklag van moord in hegtenis geneem. Daar was sprake dat hy en Orphan heimlik ’n verhouding gehad het. Herrings sal weer 6 Augustus in die Vredenburg-streekhof op aanklag van moord verskyn.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.