Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Diere met worsies vergif?

’n Paar naburige inwoners van ’n woonbuurt in Vredenburg tel van tyd tot tyd “verdagte” Weense worsies in hul tuine op.

Een van dié inwoners, Arnold Pape, glo hierdie worsies is deur iemand – glo ’n “honde-hater” – met gif besmet en kwaadwillig in die erwe gegooi om troeteldiere siek te maak.

Hy is nie seker wat die boosdoeners se motief is nie.

Volgens Pape het heelwat van die inwoners se diere siek geword nadat hulle moontlik van die worsies geëet het.

Barbie van Niekerk sê sy het in Oktober verlede jaar na die woonbuurt getrek en haar buurvrou het haar gewaarsku teen die “honde-hater” wat in die omgewing woon en gesê sy moet gereeld haar erf vir verdagte “peuselhappies” wat haar Yorkshire Terriër moontlik siek kan maak, fynkam.

Nie lank daarna nie het Van Niekerk worsies in haar erf gekry. Haar hondjie het glo een van die worsies gehap, maar dit dadelik weer opgebring, wat aan haar ’n bewys is dat daar “fout” met die worsies was.

Pape het van die worsies in ’n flessie bymekaar gemaak met die doel om dit aan ’n kenner te gee vir ontleding, maar tot dusver het hy nog nie iemand gekry wat hom kon help nie.

Tot dusver het munisipale wetstoepassingsbeamptes gesê verdagte worsies is nie hul regsgebied nie en die dierebeskermingsvereniging (DBV) se hande is ook afgekap.

Louise van Zyl van die Weskus- en Swartland-DBV het Dinsdag aan Weslander gesê hulle is bewus van die klagtes, maar kan nie sonder bewyse optree nie.

“Ons wil graag help, maar ons kan in groot moeilikheid kom as ons iemand valslik beskuldig,” het Van Zyl aan Weslander gesê.

Die polisie het ook aangedui dat hulle nie sal kan help nie, aangesien daar nie ’n misdaad plaasgevind het wat ondersoek kan word nie.

Pape sê egter hy vrees iets meer ernstig kan gebeur en hy sal steeds sy bes doen om ’n groot hartseer te verhoed.

“Buiten die diere is daar ook kinders in die woonbuurt; hulle kan ook van die gif inkry,” het hy bygevoeg.

Weslander het voorheen berig oor troeteldiere wat in 2013 in Langebaan vergiftig is, ook deur die inname van vleis wat glo deur kwaadwilliges in erwe gegooi is. ’n Hele paar troeteldiere wat die vleis gevreet het, het hul lewe verloor.

Een van die slagoffers was Rocky, ’n geliefde kat. Sy eienaar het ’n vreemde stuk droëwors wat hulle in die tuin opgetel het, vir patologiese ontleding gestuur en dit is positief getoets vir die dodelike gifstof Aldicarb, beter bekend as Two Step.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.