Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘Dis dalk iemand se laaste . . .’

Sy kon maklik die geld in haar eie sak gedruk het, maar Viona Koenana, ’n werknemer van Saldanhabaai-munisipaliteit, het nie.

Sy wou Vrydag 26 Julie geld by Capitec se outomatiese tellermasjien (OTM) in die Weskus Mall gaan trek. Net voordat sy haar bankkaart in die masjien wou druk, het sy tot haar groot verbasing opgelet dat ’n stapeltjie note nog in die masjien se geldgleuf is. Sy het vinnig rondgekyk, maar niemand gewaar nie.

“Ek het geworstel en vir ’n oomblik gewonder wat ek met die geld moet doen. Dit is dalk nou my seëning?” het Koenana vertel.

Sy het pas haar geliefde ouma aan die dood afgestaan en die geld het soos troos gevoel, maar sy het voor haar siel geweet niks in die lewe “is mahala nie”.

Die versoeking om die geld vir haarself te hou, was van korte duur.

“Ek was onrustig, want wat as dit nou iemand se laaste geld was?”

Koenana het aan Weslander vertel dat sy die R1 000 en die strokie wat die masjien uitgedruk het, na die personeel in die bank geneem het.

Die personeel kon glo nie op die plek bepaal aan wie die geld behoort nie en Koenana het haar kontakbesonderhede vir hulle gelos. Sodra iemand na die geld kom vra, of die bank die eienaar opspoor, sou hulle haar bel.

Die volgende oggend is Koenana se ouma in die Vredenburg Sentrale Begraafplaas ter ruste gelê.

Net ná die bedrywige begrafnis het Koenana die skoene van haar seer voete afgeskop, gereed om ’n bietjie te ontspan. En toe kom die oproep waarvoor sy gewag het.

Die eienaar van die geld is gevind.

Sy is haastig – in haar pienk pantoffels – na die winkelsentrum om die geld te gaan teruggee.

“Ek het regtig goed gevoel om die man se geld te kon teruggee,” het Koenana aan Weslander gesê.

Die eienaar van die geld, ’n lang jong man, was so dankbaar dat hy selfs saam met Koenana vir ’n foto geposeer het, wat sy daarna op Facebook gedeel het.

“Hy was regtig bly en beïndruk. Ek is dankbaar dat ek die regte ding gedoen het. Ek is net jammer ek het nie sy naam gevra nie,” het sy erken.

Gerrit Philander is een van vele wat positief op Koenana se Facebook-plasing gereageer het. Hy skryf: “God het dit ook gesien en sal jou op Sy tyd vele keer meer seën, Viona. Dit is so ’n uitsonderlike aksie, juis omdat die meeste ander mense die geld sou gegryp het en sonder ’n sweempie van ’n skuldgevoel weggeloop het. Hulle sou hul gewete gesus het met ‘Dis my luck, of my blessing!’ Dit verg iemand met besondere integriteit om te doen wat jy gedoen het. En ek is bly jy vertel dit vir die wêreld, want al sou dit net een hart tref, sou dit beslis die moeite werd wees.”

Pitkos vir die siel: Baie mense probeer hul lyf gesond hou deur die regte kos te eet en te oefen, maar wat van die siel? Kenners reken dieet is nie net wat ons eet nie, maar ook wat ons kyk en lees. As meestal negatiewe en slegte nuus ingeneem word, word ’n mens terneergedruk. Daar is soveel geweld en hartseer om ons dat ’n mens maklik kan vergeet dat talle mooi, dikwels ongesiene dinge, ook gebeur. Daarom nooi Weslander Weskussers uit om hul goedvoelstories met ander lesers te deel. Stuur jou wenk van ’n onvoorwaardelike gebaar van liefde vir publikasie aan Weslander se WhatsApp-nommer by 082 576 0453. Stories sal op meriete vir die koerant gekies word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.