Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Doloreze-saak nou by aanklaer vir beslissing

“Die gebrek aan antwoorde is pynlik.”

Só sê Helene Meissenheimer, die ma van Christiaan (Jahandro) Meissenheimer (30) wat meer as ’n jaar gelede, op 3 Julie 2019, op die pelagiese visskuit die Doloreze gesterf het.

Jahandro en sy kollega Casper Small (63), albei van Velddrif, het daardie nag hul lewe op die skuit naby St. Helenabaai verloor, glo weens giftige gas wat hulle ingeasem het.

Die Dolereze behoort aan die West Point-visfabriek in St. Helenabaai en die bemanning op hierdie skuit werk vir Terrasan Pelagiese Visserye.

“Ons as gesin en Casper se familie wat in Namibië woon, kry baie swaar, want dis ’n hele jaar ná die mans se dood en ons het steeds geen antwoorde nie. Ons weet nie werklik wat daardie nag gebeur het nie,” erken ’n hartseer Helene.

Kapt. Tania Helfrich, plaaslike polisiewoordvoerder, het egter Dinsdag aan Weslander bevestig die ondersoek is nou afgehandel.

Daar is gewag op die toksikologieverslag wat onlangs ontvang is. Die hele saak, wat ook die verslag van die Suid-Afrikaanse Maritieme Veiligheidsowerheid (Samsa) se ondersoek insluit, lê nou by ’n senior staatsaanklaer by die Vredenburg-hof vir beslissing.

Helfrich verduidelik dat dit standaardprosedure in so ’n geval is dat ’n geregtelike doodsondersoek gedoen word. Die staatsaanklaer sal die verslae ondersoek en besluit of daar meriete vir vervolging is, al dan nie.

Weslander het verlede Julie berig dat Small glo in die romp van die boot, waar ’n vorige vrag vis gestoor is, gaan skoonmaak het, omdat “dit so gestink” het. Jahandro het glo vir Small gaan help, wat om hulp geroep het. Die mans is glo deur giftige gas oorval en het gesterf.

Die potensiële gesondheidsgevare met betrekking tot die hantering van nywerheidsvis is wêreldwyd goed gedokumenteer. Volgens ’n uittreksel van ’n berig deur dr. M.A. Cherian, verbonde aan die patologie-departement by die Castle Hill-hospitaal in Cottingham in die Verenigde Koninkryk, produseer vis gedurende die ontbindingsproses giftige gas. Benewens die feit dat verrottende vis die suurstof in ’n geslote ruimte uitput, word koolstofdioksied, swaweldioksied en ammoniak geproduseer. Volgens hierdie skrywe kan ontbindende vis ook dodelike metaan- en sianied-gas vrystel.

Jahandro se enigste kind word in November vier jaar oud. Helene sê sy probeer Jahandro se herinnering by haar kleinkind lewend hou. “Daar is ’n groot geraamde foto van Jahandro in ons huis. Wanneer sy (haar kleinkind) kom kuier, wys sy met haar vingertjie na die foto en roep, ‘pappa, pappa’! Sy onthou ook haar pa was ’n visserman, want elke keer as sy ’n boot sien, praat sy ook van haar pa,” vertel Helene.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.