Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Dries mik vir Paralimpiese Spele

Gesonder, fikser as ooit en gereed vir aksie.

Dries Millard (30), die bekende internasionaal erkende gestremde branderplankryer van Langebaan, het die afgelope vier jaar groot uitdagings met sy gesondheid beleef.

gesondheidskwale

Dries het sedert 2016 druksere en ernstige infeksie in sy been gekry, teen ’n “superkiem” wat hy in ’n hospitaal opgedoen het, baklei, verskeie operasies ondergaan, yslike nierstene die grootte van gholfballe opgedoen en ’n nier verloor.

Maar hy sê hy is terug vir “groot, nuwe uitdagings” en is besig om die Weskus van Yzerfontein tot Elandsbaai saam met sy jonger broer en sy getroue hommeltuigkamera “plat te surf” om videomateriaal vir virtuele branderplankry-kompetisies saam te stel.

verlam ná motorongeluk

Millard het Suid-Afrika al menigmaal as paraplegiese branderplankryer verteenwoordig. Maar voordat hy bekend geword en op televisie verskyn het, deur radio-omroepers ondervra is en vir motiveringspraatjies by skole genooi is, was hy ’n ywerige junior Springbok-rugbyspeler met groot ambisie.

Sy rugbydrome is aan flarde geskeur die dag toe hy in sy matriekjaar in ’n motorongeluk verlam is. Hy het uit die voertuig geval omdat hy nie sy sitplekgordel aangehad het nie en sy rug gebreek.

Hy was ’n ruk lank terneergedruk omdat hy nog altyd ’n sportiewe mens was, en het sielkunde as studierigting aan die Universiteit Stellenbosch gekies “omdat ek gedink het ek kan my eie kop op dié manier uitsorteer”, bieg hy.

Hy het egter gou besef hy sal altyd ’n atleet wees – “iemand wat nie vir ’n kantoor gemaak is nie”.

Die dag toe hy weer met sy branderplank see toe is, het hy geweet wat sy roeping is.

geroep tot groter ideale

“Iemand met ’n gestremdheid kan steeds ’n baie sportiewe en aktiewe lewe geniet,” verduidelik Dries.

Hy het hierdie persoonlike waarheid ook vir talle ander mense met gestremdhede deur middel van sy organisasie sonder winsbejag, Extreme Abilities, wat volgende jaar sy 10de bestaansjaar herdenk, waargemaak.

“Weet jy hoeveel bevryding kry iemand met ’n gestremdheid wanneer hy ’n wit skuimbrander in die vlakwater na die strand kan ry? Dit gee hulle vreugde en selfvertroue. As jy hul gesigte sien wanneer ons hulle na die water neem, sal jy verstaan.”

Benewens hierdie terapeutiese funksie van die organisasie, bied Extreme Abilities ook professionele afrigting aan gestremde branderplankryers wat kans sien vir die bemeestering van die grootste, wildste en gevaarlikste golwe op die gewildste branderryplekke.

Dit is juis hierdie ryers wat gebrei word vir nasionale en internasionale branderplankry-kompetisies in die “Adaptive Surfing” oftewel aangepaste branderry-sportkode.

Aangepaste branderry

Aangepaste branderry bestaan al vir sowat 20 jaar, terwyl Dries destyds, langer as tien jaar gelede, baanbrekerswerk vir dié sportkode in Suid-Afrika gedoen het.

Vanjaar sou branderry die heel eerste keer in die geskiedenis deel van die Olimpiese Spele wees, en aangepaste branderry deel van die Paralimpiese Spele.

Die Covid-19-pandemie het egter die drome van deelname aan die spele van talle opgewonde branderryers wêreldwyd in die wiele gery.

“Ons mik en oefen egter hard vir die volgende spele,” het Dries aan Weslander gesê.

Virtuele kompetisies

Dries is iemand wat geleer het dat daar altyd ’n manier is om ’n skynbaar onoorkombare uitdaging te omseil.

Nie eens die afskaffing van alle mededingende sportsoorte gedurende die nasionale inperking kon hom keer nie.

Dries kon met die beeldmateriaal wat hy en sy broer die afgelope winter met die hommeltuigkamera opgeneem het, vir verskillende internasionale virtuele branderry-kompetisies inskryf.

Hierdie soort kompetisies is uit nood gedurende die pandemie gebore, “want jy gaan nie sommer ’n goeie surfer maklik uit die water hou nie,” spot Dries.

Branderry-video’s word weggestuur vir beoordeling en Dries glo hierdie soort kompetisies is die toekoms van kompeterende branderry en gaan die norm word.

“Dis moeilik vir iemand soos ek om internasionaal te reis om aan kompetisies te gaan deelneem. Dis baie moeite en kos baie geld. Dan kom ek daar aan en die weer is nie ideaal nie, of moet ek my vernuf in sulke klein, simpel brandertjies probeer wys. Die virtuele kompetisies beteken ’n mens kan by jou eie plek surf en jy kan vir die perfekte golf wag.”

gemeenskapsprojekte

Extreme Abilities is ook bekend vir die gemeenskapsprojekte aan die Weskus waar veral die plaaslike gestremde en minderbevoorregte jeug die begunstigdes is.

Noudat Dries beter gesondheid geniet, mik die organisasie na “iets meer permanent” vir die jeug. “Ons wil nie net af en toe geleenthede aanbied nie, maar ’n projek vestig waar ons die kinders permanent, daagliks, op ’n produktiewe manier uit die strate kan hou en in die water kan kry.”

Een van die beplande inisiatiewe is ’n menseredder-opleidingsprogram vir die jeug.

“Ons is besig om aansoek te doen vir die nodige finansiering van die departement van sport en kultuur om hierdie projek op die been te kry.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.