Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Een dag op ’n slag vir outisme-ma

“Outisme is nie pret nie, maar my kind bring my soveel vreugde.”

Die Saldanhabaaier Nicolene Snyders, trotse outisme-mamma van Tyler (6), sê die breë gemeenskap is oningelig oor outisme en sy streef daarna om meer mense oor die toestand in te lig.

April is Outisme-bewusmakingsmaand, ’n toestand wat die ontwikkelende kinderbrein raak en probleme veroorsaak met kommunikasie, sosiale interaksie en die verbeeldingswêreld.

Kinders met outisme se vermoë kan wissel van talentvol tot kognitief gestremd, verbaal tot nie-verbaal, hipo- of hipersensitief vir die omgewing en met ’n geaardheid wat wissel van passief tot aktief.

Aanvanklik het Nicolene gedink iets is fout met Tyler se gehoor.

“Ek het hom laat toets, want hy het nie gereageer wanneer ek met hom praat nie. Die spraakterapeut het my na ’n arbeidsterapeut verwys,” vertel Nicolene.

Kennis bring mag

Jare gelede, toe Nicolene na ’n kleuterskool vir haar seun gesoek het, is sy deur die personeel oor Tyler se sensoriese ontwikkeling uitgevra.

“Hy was drie dae by Saloutie Kleuterskool, maar nie langer as ’n halfuur nie. Dit was te veel vir hom. ’n Juffrou vra toe oor sy sensoriese ontwikkeling. Ek het geen idee gehad wat ‘sensories’ was nie. Dit was vir my soos ’n vloekwoord.”

Nicolene het toe besluit om professionele hulp te kry.

Ná sessies met die arbeidsterapeut het sy oor outisme begin lees.

“Ek het nie gehou van wat ek lees nie. Die assesserings was ’n uitmergelende proses en ná die diagnose moes ek meer ondersteuning van die terapeut as Tyler self kry. Ek het nie geweet hoe ek die groot, nuwe onbekende ding sou hanteer nie.”

Outisme is amptelik op 4 April 2018 by Tyler gediagnoseer.

Nicolene sê ten spyte van die hartseer was sy bly vir die diagnose, want toe het die struikelblok uiteindelik ’n naam.

Daaglikse stryd

Tyler het op tweejarige ouderdom ’n klein woordeskat gehad, maar daarna heeltemal ophou praat. “Dit is eers nou twee maande gelede dat hy weer begin praat het. Tyler se ontwikkeling is nie soos dié van ander kinders nie. Baie mense is gemeen en sê hy is ‘stadig’ of dink hy is dom en dit vat baie van my om nie lelik te reageer nie. Ek moet myself net herinner dit is onkunde,” verduidelik Nicolene.

Terapie help en Nicolene prys die span by die Vredenburgse provinsiale hospitaal vir hul goeie werk.

Danksy sessies met hulle praat Tyler weer, hoewel dit steeds moeilik is om homself uit te druk. “Hy raak steeds baie gefrustreerd. Dit is wanneer hy wild aangaan en sommer na my slaan. Klein dingetjies ontstel hom – van wat hy aantrek tot wat hy eet,” sê sy.

Tans bestaan Tyler se dieet hoofsaaklik uit biltong en kaas van Cartol.

“Kinders met outisme is dikwels hipersensitief of ondergevoelig vir sekere sensasies, insluitend kos,” aldus Ambitious about Autism, ’n Britse organisasie.

Klein oorwinnings

Met al die struikelblokke is dit juis hoekom Nicolene meen dit is belangrik om Tyler se nuwe prestasies te vier. “Hy het nou die eerste keer ’n beste maatjie. Sy aanpassing by Dolfyntjie-dagsorgsentrum is wonderlik en die personeel is so geduldig. Hulle leer daagliks saam met ons oor outisme.”

Sy sê gratis, professionele hulp word aangebied by die staatshospitaal vir kinders met outisme tot ses jaar oud.

“Tyler hou my plat op die aarde. Sommige dae huil ek uit frustrasie en hoe moeilik dinge kan wees, maar dan laat hy my lag . . . Hy bring soveel awesomesness in my lewe. Anders ouers dink dalk ek gaan te veel aan oor klein dingetjies, maar vir Tyler was dit ’n mylpaal net om sy naam te kon sê of ’n maatjie te maak.”

Die pad vorentoe

Nicolene sê sy weet nie altyd wat vir haar gesin voorlê nie, maar in hierdie stadium vat sy dit “een dag op ’n slag”.

“Outisme is veeleisend. Selfs in my familie is dit moeilik om die toestand te verduidelik. Gelukkig is daar ’n goeie ondersteuningsgroep aan die Weskus,” sê Nicolene.

“Hier is ouers wat verstaan waardeur jy gaan. Dit is so belangrik om die ondersteuning te hê, want outisme is iets waarmee baie Weskussers sukkel.

“Ons Weskus-ondersteuningsgroep strek tot in Vredendal en dis moeilik om te sien hoe outistiese kinders in meer afgeleë dorpe net nie die hulp kry wat hulle nodig het nie. Baie van hulle is in hoofstroomskole en kan nie byhou nie.”

Hoewel Nicolene sê sy was tevrede met die ondersteuning van die Dolfyntjie-perseel is daar nie baie opsies vir outistiese kinders nie. Tyler sal volgende jaar by Karitas Spesiale Skool begin.

“Baie veranderings wag nou, maar ek dank elke dag die Vader vir my seuntjie. Vanjaar was die eerste staptog vir Outismedag (2 April) en in 2020 sal ons nog groter gaan. Volgende jaar sal dit nog groter en beter wees om hopelik meer mense van outisme bewus te maak,” sê Nicolene.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.