Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Een derde is voetgangers

Sowat 35% van padsterftes is voetgangers.

Só het Fikile Mbalula, die nasionale minister van vervoer, in April in ’n verklaring gesê nadat die afgelope Paasnaweek se padsterfte-statistieke bekend gemaak is.

Volgens Mbalula toon die statistieke dat die meeste voetgangersterftes gebeur het omdat mense dronk in die pad loop of omdat hulle besige paaie op gevaarlike plekke oorsteek.

Aan die Weskus word voetgangers ook gereeld raakgery. Sommige van hulle is gelukkig en stap net met skrape en kneusplekke weg, terwyl ander hul lewe verloor.

Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n polisiewoordvoerder van Vredenburg, is ’n man verlede Maandag (26 April) omstreeks 12:00 in Saldanhaweg voor die Weskus Mall doodgery.

“Die omstandighede van die voorval word nog ondersoek,” het sy aan Weslander gesê.

Weslander het ook berig oor ’n voetganger wat op 3 April op die Vredenburg-Saldanhapad deur ’n motor getref is. Die bestuurder het van die toneel af weggejaag. Die man is genadiglik net lig beseer, maar ’n voetganger wat dieselfde dag op die verkeerde plek op die verkeerde tyd was, is by die Goedverwacht-afdraai op die Velddrif-Piketbergpad dood toe twee voertuie teen mekaar gebots en die voetganger getref het.

Volgens ’n persverklaring wat deur die Wes-Kaapse regering uitgereik is, is die veiligheid van voetgangers die voertuigbestuurders sowel as die voetgangers se verantwoordelikheid.

Des Paton, waarnemende provinsiale verkeer-streekdirekteur vir die Weskus, het hierdie stelling beaam en weer ’n beroep op alle padgebruikers – bestuurders sowel as voetgangers – gedoen om verantwoordelik te wees en sodoende hul deel te doen om padsterftes te verminder.

Volgens Paton was altesaam 46 voertuie die week van 22 tot 28 Maart by verskillende botsings en voorvalle op plaaslike paaie in Vredenburg, Langebaan, Saldanha, St. Helenabaai en Hopefield betrokke. Hierdie voorvalle sluit botsings teen stilstaande voertuie – veral by stoptekens – lamppale, botsings teen ’n muur, ’n wildsbok wat getref is en voorwerpe wat van bewegende voertuie op ander voertuie geval het, in.

In slegs een van hierdie botsings – op 25 Maart in Laaiplek – is iemand ernstig beseer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.