Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘Ek moes twee keer harder werk’

Sy dra ’n blou uniform en ’n sagte skakering lipstiffie. Sy dwing gesag af as die lang arm van die gereg met ’n gemanikuurde ysterhand.

Lindie Marx is ’n kolonel – vreesloos midde-in die aksie as skote bo haar en haar kollegas se kop klap en woedende betogers klippe na die polisie se voertuie gooi.

En boonop is sy enkellopend, want sy “het nie tyd vir ’n kêrel nie” en stel ook nie belang in een nie.

“Kyk, ek intimideer soms mense. Veral sekere mans,” terg die 52-jarige adjunk-klusterbevelvoerder van die Vredenburg-polisiekluster, waaronder tien plaaslike polisiekantore bestuur word.

Sy het die pos aan die Weskus in 2019 aanvaar nadat sy 16 jaar as stasiebevelvoerder by verskillende polisiekantore soos Tuinplaas, Hlogotlou en Bela-Bela in Limpopo gewerk het.

Marx is tans by die kluster-kantoor in Saldanha gestasioneer en woon hier saam met haar “bedorwe brokkies”, haar “hondekinders”.

“Mense sien soms net ’n tawwe vrou met ’n suksesvolle loopbaan; party mense voel ek is ’n bedreiging. Hulle dink nie daaraan dat ’n gewone mens met ’n hart, vreugdes en struwelinge agter my werksidentiteit is nie,” verduidelik sy.

Marx is al 35 jaar in die polisiediens en erken sy het al menigmaal die slagoffer van vooroordeel en diskriminasie teenoor vroue in die werksplek teëgekom.

“Ek het voorheen selfs ’n bevelvoerder gehad wat my gereeld – veral as hy kwaad was – toegesnou het dat ek nie in die polisie hoort nie, maar by die huis, waar ek vir my man moet kosmaak en skoonmaak. Ek moes in my loopbaan twee keer harder as my manlike kollegas werk om bo uit te kom.”

Sy het egter nooit toegelaat dat die bevelvoerder haar onderkry nie en het hom oor haar ontevredenheid oor sy aanmerkings teenoor haar aangedurf.

Sy sê vroue moet besef dat die pad na sukses en bevordering in die polisiediens groot opoffering verg.

“Daar is nie iets soos balans tussen werk, persoonlike lewe en ma-wees nie. Dit bestaan nie. Iets gaan aan die kortste ent trek, en dis gewoonlik jy self, jou gesondheid of jou gesin,” erken Marx.

“Toe my dogter op skool was, kon ek nooit haar hokkiewedstryde of buitemuurse aktiwiteite bywoon nie, want ek het gewerk,” sê Marx.

Sy vertel sy het sommige nagte ’n bed agter in haar motor by die polisiekantoor vir haar kind gemaak omdat sy en haar gewese man, wat ook ’n polisieman is, albei nagskof gewerk het en hulle niemand betroubaar gehad het om hul kind by die huis op te pas nie.

Sy getuig van sommige polisiehoofde se ongenaakbare, traak-my-nie-agtige houding teenoor ma’s in die polisiediens, wat soms geen heenkome vir hul kinders het terwyl hulle moet werk nie.

Sy reken daar is regtig ’n groot behoefte aan goeie dag- en nagsorgfasiliteite vir polisielede se kinders.

Marx is van haar man geskei toe haar dogter 19 jaar oud was en erken dat haar verhouding met haar kind ook “seergekry” het.

“Ek het baie jare probeer om die verhouding te herstel, maar dis nou in my Skepper se hande.

“Ek moes al so baie dinge in my lewe oorkom, en mense weet nie altyd dat ek ook al erg moedeloos was nie.”

Marx het borskanker gehad en was ná verskeie operasies, 35 bestralings en 18 chemoterapiesessies bo alle verwagting in remissie.

“Die dokters het nie hoop vir my gehad nie, maar ek glo dis te danke aan die medisinale dagga-olie, wat ek getrou gebruik, dat ek lewe.”

Longkanker is aan die begin van 2019 weer by haar gediagnoseer, maar sy het eenvoudig besluit om nie weer dokter toe te gaan nie en haar olie verder te gebruik.

Het die kanker gegroei? Sy weet nie. Is sy gesond? Sy glo sy is.

“Ek lewe voluit; ek lewe vir elke dag,” getuig sy borrelend.

“As dit my tyd is om te gaan, as my doel op aarde vervul is, sal Hy my kom haal en ek is tevrede daarmee.

“En daarom is ek nie bang vir die koronavirus of vir my gevaarlike werksomstandighede nie. Ek was nog altyd lief vir die reg en geregtigheid en ek moet nog my stempel hier op die Weskus afdruk en ’n verskil in mense se lewe maak.”

In ’n neutedop wil Marx voornemende polisievroue aanraai om mooi oor hul prioriteite te dink voordat hulle by die diens aansluit en voor hulle onder eed beloof om hul gemeenskap veilig te hou en te dien.

“Dis werklik ’n passie vir my; dis soos asemhaal; ’n roeping. As jy voel jy wil ook jou lewe vir ander neerlê, gryp ’n loopbaan in die polisiediens met albei arms aan.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.