Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Ernstige misdaad gedy in Vredenburg en Saldanha

Bloedvergieting, kaping, ontvoering en roof.

Die polisie van Vredenburg en Saldanha het hul hande vol gehad met misdadigers wat van Saterdag tot Maandag groot amok gemaak het.. Twee mans is Saterdag 6 September in die donker oggendure in Louwville in twee verskillende voorvalle vermoor.

Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder van die Vredenburg-polisie, is Nicodean Darrel Januarie (23) omstreeks 00:20 op die hoek van Boom- en Vyfdestraat twee keer geskiet. Een koeël het Januarie in die bors getref en die tweede het hom in sy linkerbeen getref. Hy is op die toneel dood.

Enkele minute daarna, om 00:50, het Euwan du Toit (29) in Petrus Meyerstraat beswyk nadat hy ses keer geskiet is. Dit is nog onbekend wie die moorde gepleeg het en die polisie vra enigeen met inligting moet na vore kom.

Alle inligting sal soos altyd uiters vertroulik hanteer word en kan aan sers. Ricardo Samuels by 022 703 6464 deurgegee word.. Later dieselfde dag is nog ’n man van Vredenburg dood toe hy en ’n ander man in ’n bakleiery betrokke geraak het.

Volgens Helfrich het Fredley Jafta (32) omstreeks 16:35 beswyk nadat hy en Prins William Klaasen (51) stry gekry het en hy glo met ’n mes in die bors gesteek is.

Klaasen het Dinsdag in die Vredenburg-landdroshof op aanklag van die moord op Jafta verskyn.. Twee mans het Maandagaand ’n motor in Saldanha gekaap en inwoners van die dorp geterroriseer en beroof.

Volgens AO Yolanda Kotze van Saldanha-polisie het ’n man (25) om 20:30 in sy wit Ford Figo in Diazville in die rigting van die bekende plaaslike vakansieoord gery toe twee mans voor sy motor in die pad gespring het.

Volgens Kotze het een van die mans ’n vuurwapen op die bestuurder gerig en hom beveel om uit te klim. Een van die rowers het agter die stuurwiel ingeskuif terwyl die ander een die slagoffer beveel het om agter in die motor te gaan sit, waarna dié ook agter saam met die slagoffer ingeklim het.

Die rowers het met die man uit die dorp op die grondpad in die rigting van Jacobsbaai gery.

Volgens die slagoffer het die rowers iewers op die grondpad stilgehou en die motoreienaar van sy selfoon, baadjie, tekkies en oorfone beroof voordat hulle terug in die rigting van Middelpos gery en hom daar, genadiglik ongedeerd, afgelaai het.

Die rowers het met sy motor weggery.. Volgens Kotze was ’n jong vrou (19) net ’n kort rukkie daarna in Murraystraat onderweg na ’n vriend toe iemand haar van agter oorval het. ’n Man het ’n mes teen haar rug gedruk en haar beveel om in ’n wit motor te klim – vermoedelik dieselfde wit Ford Figo wat vroeër gekaap is.

Die vrou se beskrywing van die twee verdagtes wat haar ontvoer het, stem ooreen met die man aan wie die motor behoort se beskrywing van die rowers.

Die vrou is na dieselfde plek op die grondpad tussen Middelpos en Jacobsbaai geneem waar sy van haar selfoon beroof is.

Sy is later ook ongedeerd naby Middelpos afgelaai.

Volgens Kotze is die wit Ford Figo later verlate agter Middelpos in die veld ontdek en die motor staan tans by die polisiekantoor vir verdere ondersoek. . Enigeen met inligting met betrekking tot hierdie voorvalle van kaping, ontvoering en roof word vriendelik versoek om sers. Siyabonga Barra by 022 714 8333 te bel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.