Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Forum verlig nood in Diazville

“Die grendeltydperk het Diazville in Sodom en Gomorra verander.”

Só sê Simpiwe Jantjies, ’n plaaslike gemeenskapsleier en stigterslid van die Diazville-gemeenskapsforum wat onlangs op die been gebring is. Hierdie forum poog om met verskillende projekte die minderbevoorregte gemeenskap van Diazville en Hopland in Saldanha met noodsaaklikhede, kennis en geleenthede te bemagtig.

Jantjies sê egter die forum het met ’n broodnodige voedingskema as een van die eerste projekte weggespring aangesien hongersnood tans die grootste probleem in dié gebied is.

“In hierdie gebied woon die armste mense van Saldanha en die grendeltyd het die situasie heelwat vererger,” verduidelik hy.

Jantjies, Dawie Williams, Hossain Padiachy en Gerald Cleophas wat in die bestuur van die Saldanha Black Business Alliance (SBBA) dien, het die gemeenskapsforum van stapel laat loop. Die SBBA werk saam met die Saldanha-nywerheidsontwikkelingsone (NOS of IDZ in Engels) en weens die organisasies se vennootskap kon die forumbestuur finansiering by plaaslike nywerhede (betrokke by NOS) kry om die Diazville-gemeenskapsforum en voedingskema uit die wegspringblokke te kry.

Aanvanklik is twee sopkombuise in Hopland en twee in Diazville in die grendeltyd begin, maar Jantjies sê dit was gou duidelik dat die vier sopkombuise nie genoeg is om in almal se behoeftes te voorsien nie.

“Kinders het uit ander woonbuurte na die sopkombuise gestroom om te kom eet. Ons het daarna besluit om vyf ander sopkombuise te begin – met die doel om ’n sopkombuis in elke blok te hê.”

Soggens bedien die sopkombuise pap en smiddae kan inwoners ’n bord kos of sop en ’n vrug kom haal. Die sopkombuise wat Maandae, Woensdae en Donderdae kos uitdeel, word uit onbaatsugtige inwoners se huise bedryf en hierdie vrywilligers berei self die kos vir hulle gemeenskap voor.

Intussen het die forum verneem daar is 10 ander bestaande sopkombuise in die gebied wat met die hulp van plaaslike en provinsiale regeringsdepartemente op die been gebring is.

“Ons pogings en akkurate data-insameling is raakgesien en ons is deur die munisipaliteit genader om hierdie sopkombuise ook te bestuur.

“Altesaam sal dit dan 19 sopkombuise wees. Ons het daarom nog heelwat hulp van ondernemings, organisasies en individue nodig om die voedingskema aan die gang te hou.

“Ons verkies skenkings in die vorm van kos of geskenkbewyse om bestanddele vir die kos te koop, maar kontant is ook welkom.

“Ons het ’n rekenmeester wat die skenkings en ons boeke oudit.”

Bel Simpiwe Jantjies by 063 715 3078.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.