Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Gasprojek vir Weskus?

’n Haalbaarheidstudie vir die ontwikkeling van geriewe vir vloeibare aardgas (LNG) vir die Weskus is Woensdag 26 Augustus deur die Wes-Kaapse departement van ekonomiese geleenthede en toerisme aan die provinsiale wetgewer voorgelê.

Die studie stel voor dat ’n LNG-terminaal by die Saldanhahawe opgerig en die Ankerlig-kragstasie in Atlantis van diesel na LNG omgeskakel word.

Volgens die voorlegging kan die voorgestelde aanleg tot 13 000 werksgeleenthede vir die streek beteken en ’n positiewe impak op die omgewing hê omdat minder kweekhuisgasse vrygestel word.

Afgevaardiges van Transnet en Eskom asook Saldanhabaai se nywerheidsontwikkelingsone, wat as vennote sal dien, het die aanlyn sitting met die staande komitee vir finansies, ekonomiese geleenthede en toerisme bygewoon.

In die voorlegging sê die provinsiale regering hulle kyk al sedert 2012 na die voordele van die oorskakeling na aardgas en “gas gebaseerde industrialisering”, wat die vermindering van die koolstofvoetspoor insluit.

Volgens die departement is gas ook ’n goeie pasmaat as bystandkragbron tesame met son- en windkrag, omdat laasgenoemde veranderlik is en nie ’n standhoudende toevoer kan waarborg nie. Gasinvoer sal ook voorsien in die aanvraag van nywerhede, die vervoersektor en vir huishoudelike gebruik. Die haalbaarheidstudie het langer as 18 maande geneem om te voltooi en bekyk die ontwikkeling van geriewe vir die berging en vervoer van gas en infrastruktuur vir die verspreiding daarvan langs die Weskus.

Verder is ontledings van die aanvraag op die mark, die sosiaal-ekonomiese uitwerking van die projek, ekonomiese ontwikkeling en risiko’s uitgevoer. Die algehele kapitaalbesteding gaan na raming R20,3 miljard beloop, waarvan die oorskakeling by Ankerlig R14 miljard uitmaak.

Die 13 000 werksgeleenthede wat geskep word, word as ekwivalent aan voltydse poste beskryf, waarvan 90% geskoolde en semigeskoolde arbeid is.

Deidré Baartman, voorsitter van die komitee en die DA se provinsiale woordvoerder oor finansies, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, sê in ’n verklaring dit is die grootste kragprojek in die Wes-Kaap sedert Ankerlig in 2007 voltooi is en het die potensiaal om die “vonk vir ’n ekonomiese ontploffing in die Weskus te bied”.

“Met die oorskakeling (van diesel na LNG) sal meer krag opgewek word, minder kweekhuisgasse vrygestel word en tot 1,8 miljard liter water per jaar bespaar word,” lui die verklaring.

Die departement sê gesprekke tussen hulself, Transnet, Eskom en ander rolspelers gaan steeds voort. . Die volledige voorlegging is op die Western Cape Provincial Parliament- YouTube-kanaal te sien.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.