Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘Geskenk’ toe man huis toe kom

“Sit jou masker op, was jou hande, want hierdie siekte is nie ’n grappie nie.”

Só sê Hanna Vorster (67) van Saldanha nadat sy en haar man Vossie (69) in Desember verlede jaar, Covid-19 opgedoen het.

Hanna het net ligte simptome ervaar. Sy was moeg, het ’n droë mond gehad en haar smaak-, asook reuksintuig was aangetas.

Vossie het egter ernstig siek geraak en was ’n paar dae in die hoësorgeenheid by die Life Weskus privaat hospitaal in Vredenburg. Daarna is hy na die algemene saal geskuif waar hy vir twee dae aangesterk het voor Hanna hom op 23 Desember huis toe geneem het.

“Ek wou nie Kersfees sonder hom wees nie en die Here het my gebed verhoor,” vertel Hanna dankbaar. “Dit was my beste en grootste Kersgekenk,” sê sy.

Behalwe vir ’n erge moegheid, het Vossie geen ander Covid-19-simptome gehad nie. Vroeg in Desember het hy uit die bloute begin bloed opgooi.

Dokters het vermoed Vossie het moontlik ’n bloeiende maagseer, wat ook natuurlik sou verduidelik waarom hy so moeg gevoel het. Hy is vir twee dae in die hospitaal gemonitor en huis toe gestuur. Hy was in daardie stadium nog nie vir Covid-19 getoets nie. ’n Paar dae later het die Vorsters hul woonwa gehak en na ’n kampterrein in Caledon vertrek. Hulle het skaars daar aangekom, toe Hanna die pers-blou-skynsel in Vossie se gesig, teen sy bors en op sy hand­palms opmerk. Hanna sê sy het eers later uitgevind dat hierdie pers-blou skynsel van die vel op ’n suurstoftekort dui.

Hulle het na die Mediclinic Hermanus gery waar Vossie vir elke moontlike kwaal ondersoek is.

“Toe die dokter klaar met als was, het sy vir my gesê sy is 99% seker my man het Covid,” vertel Hanna.

Die egpaar het besluit dit gaan te moeilik wees om hul­self in die woonwapark af te sonder en het maar weer opge­pak en huis toe gery.

Vossie was baie uitgeput, maar dit het heel goed met hom by die huis gegaan tot hy in die badkamer flou geval en weer bloed gebraak het.

“Daar was sulke stukke in die bloed wat gelyk het soos opgekapte lewer. Dit was verskriklik,” sê Hanna.

Die Vorsters is ook intussen verwittig dat Vossie se toetsuitslae positief is.

“My skoonsuster het my later die middag oor die foon gesê sy weet van ’n paar positiewe gevalle waar die mense ook bloed gebraak het. Wat sy my nie in daardie stadium gesê het nie, is dat daardie mense gesterf het.”

Hanna het ’n groot rustigheid ervaar toe Vossie daarna in die hoësorgeenheid van die Life Weskus privaat hospitaal opgeneem is, “want hulle sou hom kon help as hy in die nood verkeer het. Ek sou nie kon nie.”

“Ek het nie vir ’n oomblik gevrees dat hy sal doodgaan nie, want ek weet God is in beheer. Ek het geweet my man sal huis toe kom. Oor die land heen het vriende en familie vir Vossie gebid. Ek glo hierdie was nie net ’n gewone genesing nie, veral as ’n mens in ag neem hoe vinnig en goed Vossie herstel het.”

Hanna glo God het haar Vossie gespaar sodat hulle as egpaar die getuienis van sy genesing met ander kan deel.

“Mense moet weet dat God in beheer is, maar Hy wil ook hê ons moet ander vertel dat hulle die siekte ernstig moet opneem en verantwoordelik moet optree.”

Hanna is nooit vir die virus getoets nie, maar weens haar simptome wat baie kenmerkend aan die siekte is, is sy baie seker dat sy dit ook gehad het.

Haar raad aan ander is om gereelde oefening te kry, ge­sond te leef en om vitamienes of aanvullings te gebruik.

“Ek en Vossie is baie aktief. Die dokters het gesê Vossie se fiksheid het gewis ook bygedra tot sy vinnige herstel. As hy nie so fiks was nie, sou hy heelwaarskynlik baie sieker gewees het.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.