Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
G’n einde aan flambojante May se talente

Die legendariese Tina Turner het altyd gesê haar grootste skoonheids­geheim is om gelukkig in haarself te wees.

Hier aan die Weskus leef die flambojante May Muzic, Velddrif se eie Tina Turner-nabootser, ook volgens hierdie goeie raad.

Hierdie ouma van twee glo ’n mens is so oud soos jy voel en basta met jou as jy dink haar Tina-rokkies is te kort. Met oneindig lang, gevormde bene wat selfs ’n supermodel soos Gisele Bundchen groen met jaloesie sal laat, en dít nogal op 67, wie sal May kwalik neem dat sy so voel?

As ’n mens in ag neem dat Tina Turner nie met haar ikoniese diva-naam gebore is nie, is dit gewis maklik om te aanvaar dat ’n komkommerkoel naam soos May Muzic ook eers later opgeduik het om by haar vlamvatpersoonlikheid op die verhoog te pas. Maar, nee, May Kathleen Muzic is haar regte naam.

En wanneer hierdie besonderse vrou nie die ikoniese sanger met die wilde hare op die verhoog speel nie, vermaak sy haar gehore met van Michael Jackson se grootste treffers. Haar repertoire van die ontslape koning van pop sluit ook ’n paar musieknommers in wat Jackson se kenmerkende maanstappie insluit.

“Ek was as jongmens ’n professionele danser in Durban,” sê May.

“Ek het jare daarna in Kampsbaai saam met ’n paar mede-ouers as geldinsameling vir die plaaslike hoërskool ’n amateurteatergroep genaamd die Camps Bay Floppies begin.”

En só het haar na-apery van bekendes begin. Die groep was uiters suksesvol en het uiteindelik ’n dekade se vertonings by skole reg oor die Kaap ingeryg. Onlangs het sy twee produksies, On broadway en The roaring twenties vir die Port Owen-seiljagklub op die planke gebring. ’n Paar klublede was baie gewillig om hul verborge talente te ontgin en saam met haar plaaslike gehore te vermaak.

Uitvoerende kunste is egter nie May se enigste talent nie. Haar groot liefde is skilder en beeldhouwerk. Sy staan as die Michelangelo van Velddrif bekend, omdat sy graag Gotiese skilderye verf wat die bekendste werk van die ou meesterskilders naboots. Een van haar gunstelingwerke is haar weergawe van Die Laaste Avondmaal wat in die vyftiende eeu deur Leonardo da Vinci geskilder is.

Tussen al haar stokperdjies deur vind hierdie lewenslustige weduwee steeds tyd vir haar werk as binneversierder.

Toe May en haar ontslape man destyds met hul seiljag om die wêreld gereis het, het sy ’n liefde vir skubaduik ontwikkel. Sy is steeds gek daaroor, maar “ek sou meer gereeld met my rubberpak in die water gespring het as die Weskus se water nie so ysig was nie,” erken sy. Dis vir haar vriende in Velddrif moeilik om hulself in te dink dat hierdie kleurvolle, eksentrieke vrou lank vir Eskom as elektriese tekenaar gewerk het.

In haar vrye tyd maak sy tuin en doen blommerangskikkings. Sy is ’n lid van die Wes-Kaapse paneel van blomkunsbeoordelaars. As sy nog tyd oor het, lees sy graag of kyk skop-skiet-en-lawaaifilms, veral een waarin Liam Neeson met sy skor stem die skelms ’n les leer.

Haar toekomsplanne is om heelwat meer Gotiese skilderye te verf en om te dans, dans, dans tot sy eendag die Weskus vir die hiernamaals verruil.

“Dít gaan egter nie gou wees nie, want ek het nog te veel lekker dinge op my emmerskoplys!”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.