Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Grafsteenbedrog ondersoek

Miljoene is glo verduister.

Jasper Hoon, eienaar van die Namakwa-dekorsentrum in Vredenburg, het voorverlede week ’n saak van bedrog by die Vredenburg-polisiekantoor aanhangig gemaak nadat ’n forensiese oudit getoon het dat sowat R3,5 miljoen sedert 2014 by die sakeonderneming “weggeraak” het.

Weslander het vroeër vanjaar berig oor beweerde ongerymdhede by die Namakwa-sentrum toe verskeie ongelukkige klante oor die gehalte van hul grafstene gekla het. Ander het weer vir die oprig van hul geliefdes se grafstene betaal, maar jare later is die diens steeds nie gelewer nie.

Volgens Weslander se berig in April vanjaar het Hoon snuf in die neus gekry oor moontlike onderduimse aktiwiteite by sy winkel toe George April van Hopefield kom kla het oor die gehalte van sy oorlede vrou se grafsteen.

“Nadat mnr. April se klagte aan die lig gekom het, het ek opdrag gegee dat dit ondersoek moet word. Die aanvanklike ondersoek het daarop gedui dat grootskaalse bedrog moontlik plaasgevind het, wat moontlike diefstal van kontant en voorraad insluit,” het Hoon vantevore aan Weslander gesê.

Ondergeskikte materiaal is onder meer vir die grafstene en die verf daarvan gebruik. Daarom is daar groot ontevredenheid onder talle klante oor die gehalte van die steen en die feit dat die verf (wat veronderstel is om vir altyd te hou) ná ’n paar reënbuie begin afdop het.

Nadat Hoon glo die drie betrokke personeellede gekonfronteer het, “het hulle eenvoudig net nie weer vir werk opgedaag nie”.

Hy het intussen nuwe personeel aangestel. Hoon sê hy en sy nuwe span doen hul uiterste bes om die winkel se naam in ere te herstel en in die toekoms weer ’n puik diens aan die gemeenskap te lewer.

Hoon sukkel met sy gesondheid, maak gebruik van ’n rolstoel en kan al die afgelope paar jaar nie meer werk nie. Hy sê hy het sy sakebelange in ander oënskynlik bekwame mense, wat hy vertrou het, se hande gelos.

Hy voel sy situasie is “uitgebuit”, het hy aan Weslander gesê.

Kapt. Tania Helfrich, woordvoerder van die Vredenburg-polisie, het bevestig dat Hoon ’n saak van bedrog aanhangig gemaak het.

Sy sê die saak word nog ondersoek en niemand is in hierdie stadium aangekla nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.