Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘Hare skeer, dan drank en geweld...’

Hy het sy hare afgeskeer en weer begin drink.

Sondag het Denise Adams hiervan gehoor.

Derick Kalmeyer het al voorheen dieselfde gedoen en toe was daar “moeilikheid”, vertel Denise.

Hare afskeer, dan drank en geweld.

Sou dit weer só gebeur? Sy weet hoe Derick kan raak.

Sy ken hom al langer as 30 jaar. Hy is haar man, Frikkie, se vriend en nou kuier hierdie “ou man” by haar dogter Frizaan (25), wat die helfte van sy ouderdom is. Dis ’n verhouding wat sy en Frikkie van die begin af veroordeel het.

Hare afskeer, dan drank en geweld.

Denise het Sondag hierdie vreesaanjaende gedagte probeer wegdink, maar terugskouend het sy toe al geweet die doodsengel klop aan hul deur.

Drie dae later is haar kleinkinders Faith (3) en Conray (1) koelbloedig vermoor en Derick is van die dubbele moord aangekla.

‘Julle moet kom’

Dis Woensdagoggend 03:00. Denise se selfoon lui hulle wakker. Marietjie, Derick se suster, is histeries aan die ander kant.

“Julle moet kom; hier’t nou ’n lelike ding gebeur! Faith is dood.”

Al wat Denise kon uitkry, was ’n luide “Wat?!”

“Faith is dood en . . . hy (vermoedelik Derick) het Conray deur die venster gegooi. Julle moet asseblief kom!”

Geweld

Vyf dae ná die kinders se tragiese dood sit Denise in haar sitkamer in Appiesstraat en rook. Hulle het pas teruggekeer van Malmesbury waar hulle die kinders se lykies gaan uitken het.

Frizaan sit langs haar ma, kop onderstebo, ineengekrimp saam met haar vriendin, Cristolene, op die rusbank. Frikkie, Frizaan se suster Nathanine, asook Faith se pa en dié se verloofde is ook by. Die verwyt en hartseer is tasbaar in die vertrek.

Eenkant brand kerse en daar is twee houtkruise met Conray en Faith se foto’s by ’n versameling teddiebere en speelgoed staangemaak.

Iewers in die huis lê ’n sak babadoeke en nuwe tieties vir bababottels wat Denise net die vorige week vir haar twee geliefde “engelkinders” gekoop het.

Frizaan wil nie praat nie. Haar hand is heeltyd voor haar mond. Sy knik egter haar kop stadig en sluit haar oë toe sy gevra word of Derick voorheen gewelddadig teenoor haar of die kinders was.

Hoewel Derick al ’n paar keer vir geweldsmisdaad in die tronk was, het die Adamse aan die hoop vasgeklou dat hy besluit het om sy lewe om te draai.

Volgens Nathanine was Derick bedagsaam teenoor Frizaan en uiters besorgd oor haar kinders. Dit het inderdaad voorgekom of hy verander het. Min het hulle geweet wat agter toe deure gebeur.

“Hy het ons almal geflous,” sê ’n hartseer Nathanine.

In Frizaan se vorige verhoudings is sy ook geslaan.

Denise sê een van hierdie eks-kêrels het haar kind “afgeknou” wanneer niemand kyk nie. Op ’n dag het hulle die eks glo op heterdaad betrap. Die bloed het teen Frizaan se agterkop afgeloop waar die eks-kêrel haar herhaaldelik met ’n koppie bygedam het.

Dwelmverslawing

Toe Derick in die prentjie kom, was Denise en Frikkie van die begin af teen die verhouding gekant.

Denise het op ’n dag vroeg van die werk af gekom en Derick in haar huis gekry. Toe moes sy hoor hy kuier al ’n geruime tyd stilletjies by Frizaan.

“Ek het vir hulle gesê daar kan niks goeds hiervan kom nie en dit gaan ’n vriendskap van 30 jaar bederf,” vertel Denise.

Frizaan wou nie hoor nie.

Haar dwelmverslawing het volgens haar gesin gewis tot talle slegte besluite gelei. Hulle het glo telkemale voorgestel sy kry hulp om gerehabiliteer te word, maar Frizaan was nog nie gereed om die selfvernietigende gewoonte prys te gee nie.

Nou, nadat haar kinders koelbloedig van haar weggeneem is en selfdoodgedagtes deur haar kop maal, het Frizaan die eerste keer erken dat sy dringend hulp nodig het.

“Die dwelms verwoes ons kinders se lewe en niemand gee om nie!”

Die woorde bars by Denise se mond uit, so asof sy hulle te lank ingehou het.

En dan loop die trane . . .

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.