Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Hawe kry nuwe baadjie

Plaaslike, klein hawens moet tot voordeel van die plaaslike gemeenskap gebruik word.

Só meen Patricia de Lille, die minister van openbare werke en infrastruktuur, wat Dinsdag die Saldanhabaai-hawe as deel van die provinsie se kleinhawens-opgraderingsprojek besoek het.

Altesaam 13 klein hawens word opgeknap met nuwe infrastruktuur wat teen ’n koste van R500 miljoen sal geskied. Dit sluit Laaiplek, St. Helenabaai en Saldanha, plus wat Peperbaai, in.

Volgens Ashraf Schutt, wat aan die stuur van Group 6 Security is, is dit verblydend om plaaslike werkers op die projek te sien. “Werkloosheid is ’n groot probleem aan die Weskus. My hoop is dat meer plaaslike sakelui by die hawe sal baat vind nadat die werk voltooi is. “Ons is reeds jare besig om vir dié opgradering te baklei en uiteindelik sal dit wonderlik wees as plaaslike vaardighede weens die geleenthede by die hawe verskerp kan word,” sê Schutt.

Benewens die sekuriteitswerk is plaaslike kontrakteurs ook deel van die infrastruktuur-opgraderings. Elektriese werk en die opgradering van vervalle geboue is reeds onderweg. Werk word ook aan die Saldanha-sleephelling gedoen, wat ná voltooiing skepe van tot 1 200 ton sal kan akkommodeer. Dit word ook só ingerig om drie skepe op dieselfde tyd te akkommodeer.

Mustakim Gierdien, een van die projekbestuurders, meen die voltooide sleephelling kan ’n groot trekpleister vir ontwikkeling word met groot skepe wat dan nie meer na Kaapstad-hawe hoef te vaar nie. Benewens opgradering van ou geboue, verskerpte toegangsbeheer, beter beligting en werk aan die sleephelling sal padwerk ook gedoen word. ’n Verkeersirkel sal binne die hawe, naby Sea Harvest, aangebring en meer parkeerruimtes sal ingerig word.

Die beplande belegging binne die Saldanhabaai-hawe lê in kommersiële werk, het Gierdien verduidelik, met Peperbaai wat meer geskik is vir toerisme-gedrewe aktiwiteite.

Riyaadh Kara, mede-projekbestuurder van die departement van klein hawens, het verduidelik Slipway Restaurant was een van die min ondernemings binne die hawe. Dié eetplek moes egter vanweë die Covid-19-pandemie sluit.

Peperbaai is tans die tuiste vir talle akwakultuur-projekte, maar De Lille meen dit is hier dat die gemeenskap werklik kan baat vind by hul verhouding met die see. “ ’n Geïntegreerde model waar die kommersiële sektor sowel as die gemeenskap by die hawe baat vind, moet geskep word. Die meeste inwoners het nie die geleentheid om ’n huis met ’n see-uitsig te geniet nie. Dit is hoekom dit belangrik is om hierdie ruimte só te benut dat die gemeenskap direk met die ekonomiese geleenthede van die see te doen kan kry,” meen De Lille.

Opgraderingswerk by die Saldanha-hawe en Peperbaai word nou gedoen. Die werk sal na verwagting teen aanstaande Maart voltooi wees.

Mac Boysie meen meer werksgeleenthede is egter nodig omdat plaaslike inwoners uitgehonger is vir werk. Deur gesprekke met die departement is ’n ooreenkoms gesluit om so ver as moontlik plaaslike arbeid te kry. Boysie verduidelik die ooreenkoms is om 60% van die werksmag uit White City te kry en 20% van Middelpos en Diazville.

De Lille voeg by in die lig van die ArcelorMittal-aanleg se sluiting moet volhoubare ekonomiese dryfvere – soos hawens – gevind en tot voordeel van die plaaslike gemeenskappe benut word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.