Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Haweloses ‘huis toe’

Sommige haweloses is met hul gesinne herenig nadat die Saldanhabaai-munisipaliteit besluit het om tydelike huisvesting vir haweloses op te skort.

Die byna 40 inwoners was in tente by die plaaslike verkeersdepartement gehuisves, maar Marius Koen, die burgemeester, sê dié huisvesting was nie ’n volhoubare reëling nie.

Sedert die Covid-19 inperking is munisipaliteite verantwoordelik vir die tydelike huisvesting van mense wat hulle op straat bevind.

“Baie van die haweloses wou net nie luister nie. Sommige van diegene wat ons gehuisves het, is dwelmverslaafdes. Ons het agtergekom hulle stap weg met hul borde kos om dit te gaan probeer verkoop vir dwelms,” verduidelik Koen.

Hy sê die munisipaliteit het uiteindelik sowat R113 000 bestee om die haweloses te huisves, maar die hele situasie het ’n maatskaplike probleem vir die munisipaliteit geword.

“Dit is ’n moeilike, sensitiewe situasie – ons gee om as munisipaliteit, maar dit is nie ons mandaat om na hawelose mense om te sien nie. Baie van hulle wou eenvoudig nie daar wees nie,” sê hy.

Dwelms is blykbaar sommer deur die heining aan party mense gegee, wat onder meer tot onderonsies tussen die haweloses gelei het.

Agt van die haweloses is met die hulp van die departement van maatskaplike ontwikkeling met hul gesinne herenig. Ander is glo aan hul eie lot oorgelaat.

In die Bergrivier- munisipale gebied word 105 mense steeds in verskeie dorpe gehuisves. Veertien mense word by die Porterville-skouterrein gehuisves. Benewens hul slaapplek maak dié inwoners ook hul eie maaltye danksy die kombuisgeriewe. Die inwoners help ook met die versorging van perde by die terrein. Vier inwoners word by die Pella Park-sportterrein gehuisves.

Die Rhino Park-sportterrein in Piketberg het ’n tydelike tuiste vir 42 haweloses geword. Dié inwoners is reeds in die eerste week van inperking vir die koronavirus gesif en is die afgelope naweek weer getoets.

“Hulle is betrokke by aktiwiteite soos kunswerk en het reeds ’n groot plakkaat gemaak vir bewusmaking teen die gevare van Covid-19. Hulle het ook ’n tuinbou-projek van stapel gestuur waarin hulle verskeie soorte groente geplant het. Hulle is ook mal daaroor om draadkarre en kruise te maak,” vertel Hanlie Linde, die bestuurder van die Bergrivier-munisipaliteit.

Hawelose Velddriwwers word by die Smit Park-sportterrein gehuisves en ontvang kos van die FDSA-organisasie. Dié 45 inwoners bly in tente. Sondae word kerk gehou en hul gesondheid word gereeld gemonitor. “Ons bedank alle organisasies en individue in Bergrivier wat hulp aan die haweloses verleen,” sê Linde.

Sy sê dié inwoners sal gehuisves word totdat die nasionale inperking opgehef word.

Diegene in Saldanhabaai wat met hul families herenig kon word, is gehelp, maar Koen sê nie al die haweloses wou terugkeer nie. “Van die inwoners wie se families in Vredenburg woon, wou nie teruggaan nie. Party gesinne wou hulle nie noodwendig terug in die huis hê nie, want hulle het die huis voorheen verwoes of van hul ouers gesteel.”

Koen sê almal is getoets en almal wie se toetse negatief was, is terug in die gemeenskap.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.