Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Help gerus Huis Hadassa

Maak jou hart oop vir ’n kind in nood. Dit is die personeel van Huis Hadassa-kinderhuis in Vredenburg se beroep op die gemeenskap.

By dié tehuis word ’n tydelike tuiste geskep vir kinders uit alle sfere van die samelewing wat uit moeilike huislike omstandighede kom en in nood verkeer. Maar “die kamers is nie baie groot nie en lyk tans glad nie bemoedigend vir ’n twyfelmoedige kinderhart nie,” sê Ammie Moon, koördineerder by Huis Hadassa.

Sy verduidelik dat die kinders wat daar kom, soms baie verwilderd, bang of hartseer is omdat die meeste nog nooit die gawe van ’n stabiele en liefdevolle ouerhuis beleef het nie.

Die personeel van Huis Hadassa probeer dan om werklik ’n tuiste vir hierdie kinders te skep.

Volgens Moon is die roetine in die huis presies soos in ’n “normale” ouerhuis en elke kind kry persoonlike aandag en liefde van elke personeellid. “Die kleintjies noem ons kok ‘ouma’, want sy kook vir hulle lekker warm kos en bederf graag met ’n ekstra porsie as daar oor is. Die versorgers word ‘instaanmammas’ wat in liefde versorg en dissiplineer,” voeg sy by.

Wat egter kortkom, is opknapping aan die kamers en finansiering daarvoor. Die vyf slaapkamers moet uitgeverf en opgetooi word met nuwe beddegoed, gordyne en dekor. So ook die res van die dubbelverdiepinghuis aan die binne- en buitekant, aangesien die huis lanklaas opgeknap is.

Daar het ook hierdie week ’n daklek in die kantoor ontstaan, waar dit nou inreën. Moon doen ’n beroep op almal wat moontlik kan help met donasies om asseblief by die projek betrokke te raak.

Genoeg verf is reeds deur Midas en WHT Houtwerke geskenk om binne en buite te verf, maar nog geld is nodig om vir die arbeid te betaal, asook vir die dekor wat in die kamers nodig is.

Die personeel sê dit sal opreg waardeer en hartlik verwelkom word indien enigeen by die projek betrokke wil raak.

Vir meer inligting, bel Ammie Moon, koördineerder by Huis Hadassa, by 022 713 1776.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.