Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Huise wat stil-stil oorhandig is, laat gemoedere opvlam

’n Jaar nadat onluste in Noordhoek oor ’n plaaslike behuisingsprojek uitgebreek het, is die eerste van dié huise verlede week oorhandig.

Volgens die gemeenskap is hulle ongelukkig dat 10 van die wonings oorhandig is aangesien daar volgens hulle nog vele probleme is wat eers uitgestryk moet word.

Estafan Gordon, ’n lid van die taakspan wat aangestel is om die behuisingsprojek te bestuur, sê die gemeenskap is nie in kennis gestel dat enige van die huise verlede week oorhandig sou word nie. Vier lede van die gemeenskap, verteenwoordigers van die departement van menslike nedersettings en munisipale beamptes is deel van dié span.

Gordon sê egter die gemeenskap kon g’n antwoorde oor die oorhandiging van enige beamptes kry nie.

“Ondersoek is ingestel om te bepaal of die mense op die behuisingslys se detail korrek is. Ons het by ons laaste vergadering gevra vir terugvoer sodat ons kan sien of die begunstigdes wel die regte mense is. [Woensdagaand] het ons egter uitgevind die munisipaliteit het sleutels vir mense gegee en hulle het ingetrek.”

Hy sê volgens die gemeenskap is die ondersoek na die begunstigdes nog nie afgehandel nie en dus kon mense nog nie in die nuwe huise intrek nie.

By navraag het adv. Hanlie Linde, munisipale bestuurder, bevestig die tien huise wat oorhandig is, is wonings wat sedert die onluste herstel kon word. Linde sê daar word deurgaans met die gemeenskap gekommunikeer oor hoe dié projek vorder.

Sy meen dit is slegs enkele mense wat ongelukkig is oor die lyste.

“Die toekenningslys is deeglik deur die taakspan wat die Wes-Kaapse minister van menslike nedersettings, Tertuis Simmers, ingestel het, ondersoek. Die lys is gefinaliseer en is gedoen ingevolge die toekenningsbeleid van ons raad sowel as die nasionale en provinsiale beleide,” sê Linde.

Die gemeenskap se ongelukkigheid met die behuisingsprojek het verlede jaar ’n hoogtepunt bereik toe onluste uitgebreek het. Inwoners het verlede Oktober reeds gekla oor die begunstigdes van die nuwe gesubsidieerde huise wat in die proses was om gebou te word.

Inwoners het toe ’n vergadering met Ray van Rooy, die burgemeester van die Bergrivier, gehou, en ’n petisie oorhandig waarin hulle daarop aangedring het om die lys begunstigdes te laat hersien.

Betogers het klippe gegooi en van die nuwe huise aan die brand gesteek. ’n Gedeelte van die plaaslike biblioteek het ook in die slag gebly.

Weslander het destyds berig 53 nuwe Hop-huise is in die oproer beskadig.

Volgens Simmers, het die skade sowat R4,2 miljoen beloop.

Linde sê BergMun is oop vir mense wat wil gesels. ’n Groep inwoners het onlangs juis die munisipaliteit genader met vrae oor die behuisingsprojek.

“Donderdag (29 Oktober) het ’n groep van ongeveer 40 – meestal vroue – na die munisipale kantoor in Velddrif gestap waar hulle te woord gestaan is deur Sandra Crafford, uitvoerende onder-burgemeester, en Adam du Plooy, ’n raadslid. Hulle is na die stadsaal geneem en bewyse vir die toekenning van die huise gegee – tot hul bevrediging,” verduidelik sy.

Die munisipaliteit verwag herstelwerk sal teen Desember voltooi wees.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.