Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Huwelik as instelling is in gevaar

Sowat vier uit tien getroude paartjies haal nie die tienjaarmerk nie.

Dít is volgens die jongste statistieke wat in Mei verlede jaar deur Statistieke Suid-Afrika gepubliseer is.

In 2017 was daar ’n effense toename in huwelike, met 139 512 wat daardie jaar voltrek is. Ongelukkig was daar ook ’n toename van 0,3% in egskeidings, met 25 390 sake wat verwerk en gefinaliseer is. Soos in die vorige jaar het meer vroue as mans egskeiding geïnisieer.

Die gemiddelde ouderdom van mense wat skei, was dieselfde as in die vorige jaar. Mans het geskei teen gemiddeld 44 jaar oud en vroue op 40. En net soos in die vorige jaar het die meeste huwelike (26,9%) tussen vyf en nege jaar geduur.

Waar sowat 55% van 2016 se skeisake kinders onder die ouderdom van 18 jaar geraak het, het sowat 14 121 (55,6%) van die 25 390 egskeidings in 2017 kinders onder 18 beïnvloed.

Die effek hiervan? Verreikend. Navorsing toon dat kinders uit geskeide gesinne meer geneig is tot ’n agterstand op akademiese, gedrags- en psigologiese gebied.

Die skokkende skeisyfer is nie net tot Suid-Afrika beperk nie. Elke dertien sekondes skei een Amerikaanse paartjie. Dit is gelyk aan 277 per uur en 2 419 196 egskeidings per jaar.

Sowat 50% van huwelike in die VSA misluk. Altesaam 41% van eerste huwelike eindig in die skeihof, sowat 60% van tweede huwelike misluk en altesaam 73% van derde huwelike stap die tragiese paadjie.

Vandag is sowat 15% van volwasse vroue in die VSA geskei of uitmekaar, teenoor 1% in 1920. In dié land hou die gemiddelde eerste huwelik agt jaar.

Op die oog af lyk die VSA se dalende skeisyfer belowend. Ongelukkig daal die hoeveelheid huwelike wat voltrek word hiermee saam. Al hoe minder paartjies trou en millenniërs glo nie meer aan die huwelik as ’n instelling nie.

Volgens ’n ontleding van data van die American Community Survey, deur Philip Cohen, ’n professor in sosiologie aan die Universiteit van Maryland, doen jongmense dinge anders as vorige geslagte. Dié wat wel steeds aan die huwelik as instelling glo, besluit om dit veel later te doen wanneer hulle klaar studeer het, ’n loopbaan gevestig het en ’n stabiele inkomste verdien.

En hoewel Suid-Afrika ’n effense toename in huwelike sedert 2015 (toe altesaam 138 627 paartjies getroud is) ervaar het, kan ’n mens nie die afname sedert 2014 ignoreer nie. Daardie jaar is sowat 150 852 paartjies in die eg verbind. Tussen 2003 en 2008 was daar ’n effense wisseling in syfers en sedertdien ’n konstante afname, aldus Statistieke Suid-Afrika se 2015-syfers.

As ons steeds Amerika as ’n voorloper sien, het ons rede tot kommer. In dié land woon sowat 15% van jongmense tussen 25 en 34 saam. Dit is ’n 12%-styging teenoor die vorige dekade. Amerikaners onder 25 woon meer saam (9%) as wat getroud is (7%). Twintig jaar gelede het net 5% van dié paartjies saamgewoon en 14% was getroud. Ongelukkig word baie van hierdie saamwoonpaartjies ouers.

’n Ontleding van die Brookings-instituut het bevind dat daar ’n 50-50%-kans is dat ’n kind wat in ’n saamwoon-verhouding gebore word, nie beplan is nie.

Volgens Pew-navorsing sal meer as een uit elke twee kinders wat in ’n saamwoonverhouding gebore word, teen die ouderdom van nege die skeiding van hul ouers beleef, teenoor een uit elke vyf wat in ’n huwelik gebore word. Hulle sal ook meer geneig wees tot armoede.

Die verband tussen saamwoon en egskeiding mag ook nie uit die oog verloor word nie. In Amerika eindig sowat 60% van alle saamwoonpaartjies voor die kansel. Maar die paartjies wat vooraf saamgewoon het, se kanse om te skei verhoog met 40%. Altesaam 43% van kinders in die VSA sal sonder ’n vaderfiguur grootword.

So, hoekom skei ons? In Amerika word die topvyf redes vir egskeiding as volg aangevoer: ’n Gebrek aan toewyding (73%); te veel konflik (56%); ontrouheid (55%); te jonk getroud (46%); en onrealistiese verwagtinge (45%).

Party paartjies het meer as een van hierdie redes aangevoer.

Suid-Afrikaanse prokureurs en kenners het hul onderskeie menings, maar menige kenner glo die hoofsaaklike redes vir egskeiding sluit die volgende in: Finansiële konflik; die moderne samelewing se verbruikersmentaliteit; ’n lae pyndrempel (sodra die skoen begin druk, trek hulle hom uit); minder stigmas wat mense verplig laat voel om sake uit te werk; onrealistiese verwagtinge en ’n verwarring van rolle.

Hoe dit ook al sy, huwelike is onder druk en word bedreig deur egskeiding en ’n tendens om saam te woon.

Verder word die effek van egskeiding onderskat – dit is een van die stresvolste ervarings ooit. ’n Nuwe studie, genaamd “Divorce and Death”, toon dat stukkende huwelike teen dieselfde spoed kan doodmaak as sigarette. Jou kanse op dood is 23% hoër as jy geskei is as wanneer jy getroud is.

Natuurlik is voorkoming beter as krisisbestuur. Wilmé Steenekamp, kliniese sielkundige en seksuoloog, beveel aan dat paartjies hul gedrag moet aanpas om te behou wat ons weet wérk. “Ons moet leer aanpas, skaaf en verander wat nodig is om eerlike, doelgerigte verhoudings te kan hê. Sê wat pla en wat elkeen se behoeftes is. Onderhandel met mekaar oor bevrediging van behoeftes. Beplan hoe om voortdurend te bou aan jou verhouding.”

Liezel van der Merwe, stigter van SA Huweliksweek, www.intiem.co.za en Marriage Capsule, is van mening: “Getroude paartjies wat nie voorkomend optree nie, loop die gevaar om onverhoeds betrap te word sover dit die eise van die huwelik aangaan. Dit is waarom SA Huweliksweek (van 1 tot 7 September) van kardinale belang is. Dit is een week per jaar waarin jy voorkeurtyd in jou dagboek vir jou huwelik kan aanteken en jy daadwerklik aan hierdie kosbare verhouding kan werk, op ’n prettige manier en sonder druk, vóórdat dit nodig is om na reddingsboeie te reik.”

Vanjaar se tema vir SA Huweliksweek is: “Maak sin van my, jou en ons lewe saam.” Liezel verduidelik dat hulle paartjies met dié tema wil aanmoedig om mekaar beter te verstaan en gevolglik doeltreffende kommunikasie te bevorder en konflik te minimaliseer.

“Ons bied byvoorbeeld in Huweliksweek die Marriage Capsule LOFS-temperamenttoets aan paartjies. Hiermee kan hulle mekaar se temperamente ontsyfer en vasstel hoe om hul onderskeie temperamente optimaal te laat saamwerk.”

Registreer gratis vir SA Huweliksweek by www.sahuweliksweek.co.za

Bron: samarriageweek.co.za.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.