Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Keer kanker met dié pro-aktiwiteit

Lindie Nelson van Vredenburg het haar risiko vir kanker met ’n voorkomende operasie van 65% tot net 4% verlaag.

Kanker kom wyd in Nelson (36) se familie voor. Haar ma, Estelle, worstel tans met keelkanker en sy het voorheen twee keer borskanker gehad.

Boonop het twee van Nelson se vriendinne die afgelope jaar op ’n jong ouderdom uitgevind dat hulle borskanker het.

Die kommer het aan Nelson begin knaag.

Sy het ’n oulike man en twee jong seuntjies wat sy nog wil sien grootword.

Nelson sê sy wou so gou as moontlik uitvind wat die gevaar is dat sy kanker kan ontwikkel, maar dat sy aanvanklik by verkeerde deure gaan aanklop het.

Uiteindelik is sy aangeraai om met ’n genetiese berader te gesels en het sy spoedig met Frieda Loubser van Cape Town Genetic Councelling kontak gemaak.

Loubser is een van net ’n handjievol genetiese beraders in die land wat pasiënte se genetika en familiegeskiedenis gebruik om hul risiko vir kanker te bepaal.

Die evaluering van Nelson se familiegeskiedenis en ’n speekseltoets het bepaal dat haar risiko om kanker te ontwikkel, ’n stewige 65% is. Dit is nogal hoog as ’n mens in ag neem dat ’n gesonde vrou, sonder die aanwesigheid van ’n kankergeen, se risiko maar net 12% is.

Nelson het besluit om beheer van haar gesondheid te neem eerder as wat sy loop en wonder of sy eendag kanker gaan ontwikkel, en het besluit om haar borste te laat verwyder.

Sy was Woensdag 23 Oktober onder die mes in die Mediclinic Panorama in Kaapstad.

Dr. Ettienne Myburgh het ’n dubbele mastektomie uitgevoer.

Lindie se een eierstok is ook verwyder en die ander een is “afgebind”.

“Omdat ek onder 40 is kon albei eierstokke nie verwyder word nie omdat ek nog die hormone nodig het,” sê sy.

“Die ander eierstok is afgebind waar kanker gewoonlik by vroue ontstaan. Die prosedure verhoed dan dat kanker in die buis versprei.”

Nelson het terselfdertyd rekonstruktiewe chirurgie ondergaan.

Sy het verduidelik dat die pluspunt van vroue wat proaktief optree, die feit is dat hul borsweefsel en vel nog gesond is. Rekonstruksie is dus meesal suksesvol en die eindresultaat is “esteties bevredigend”, soos haar chirurg, dr. Myburgh in een van sy insiggewende video’s oor borskanker op YouTube sê.

Nelson is Sondag uit die hospitaal ontslaan en sterk tans by die huis aan.

Sy weet sy het die regte besluit geneem “want die lewe is baie meer belangrik”.

Lindie sê sy is nou ’n “previvor”. Dié term verwys na iemand wat voorkomend geopereer word om hul risiko vir die verskillende soorte vrouekanker te verlaag. Die term het in 2000 ontstaan en is sedertdien deur talle vroue, gesondheidsorgverskaffers en navorsers aangeneem. Die tydskrif Time het dié woord as een van die top-10-sleutelwoorde van 2007 aangewys.

“Ek het nooit eers geweet so iets bestaan nie,” erken Lindie. “Maar nou dra ek die titel met trots.”

Loubser het Maandag aan Weslander gesê dit is algemeen dat die publiek nie noodwendig weet waar om te gaan hulp soek wanneer dit by hul oorerflike kankerrisiko kom nie.

Indien kanker in ’n vrou se nabye familie bestaan, veral wanneer die siekte op ’n jong ouderdom die kop uitsteek, beveel Loubser aan dat sy direk met ’n genetiese berader kontak maak.

Besoek Cape Town Genetic Councelling se webtuiste by capetowngc.com vir nog inligting en kontak­besonderhede.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.