Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Kerkvensters wéér stukkend gegooi

Die splinternuwe vensters van die NG kerk Vredenburg (Moedergemeente) is weer stukkend nadat die kerk in 2017 én 2019 dié peperduur loodglasvensters vervang het, nadat dit destyds moedswillig deur ’n vandaal stukkend gegooi is.

Iemand het in Desember 2019 weer sowat 30 vensters verwoes.

Volgens Suselna Theart, administratiewe beampte by die kerk, is die kerkgebou se vensters sedert 2017 al drie keer stukkend gegooi – in Junie 2017, Junie 2019 en nou ook in Desember 2019.

Frikkie van der Merwe, voorsitter van die gemeente se eiendomsbediening, sê die gesamentlike skade van die laaste twee voorvalle beloop al sowat R170 000.

Hy sê die eerste voorval van vandalisme was in 2017 nadat ’n hawelose man die personeel wat in die kerkkantoor werk gereeld lastig geval het.

Die personeel was volgens Van der Merwe altyd vriendelik met die man en het alles gedoen om hom te probeer help, maar hulle was ook skrikkerig omdat dit gelyk het asof hy aan dwelms verslaaf is of aan die een of ander geestesversteuring ly.

Die man het glo op ’n dag nie sy sin by die kerkkantoor gekry nie en die vensters van die kerk stukkend gegooi.

Een van die kerk se personeellede het hom op heterdaad betrap.

“Die man is in hegtenis geneem, aangekla en verhoor en hy was daarna ’n ruk lank in die tronk. Hy is vir ’n sielkundige evaluasie gestuur, maar dokters het glo bevind niks is fout nie,” het Van der Merwe gesê.

Die man is vrygelaat en hy is verlede jaar weer gereeld naby die kerk gesien.

Iemand het op 24 Desember verlede jaar gesien dat van die vensters weer stukkend gegooi is. Volgens Theart het die vandaal die volgende paar dae nog meer vensters kom stukkend gooi.

Of dit dalk wraak is, kan nie bewys word nie.

Van der Merwe sê die lood­glasvensters sal weer ten duurste vervang moet word, maar die kerkraad is redelik moedeloos en nie seker hoe om die gebou in die toekoms te beveilig nie. Die vensters word deur ’n loodglaskunstenaar in die Paarl spesiaal vir die kerk gemaak en dit is ’n tydsame kunsproses.

Van der Merwe sê ’n kringtelevisiestelsel sal die kerk sowat R77 000 kos, perspex-versterking net vir die onderste vensters meer as R40 000, en as ’n sekerheidswag gehuur word om die gebou op te pas, gaan dit die gemeente sowat R10 000 per maand uit die sak jaag.

Niemand het gesien wie die vensters met die tweede en derde voorval in 2019 stukkend gegooi het nie, maar die kerkraad doen ’n vriendelike beroep op mense om ’n ogie te hou vir verdagtes by die kerk.

Die groter maatskaplike probleem in hierdie prentjie is die feit dat Vredenburg steeds nie ’n skuiling vir hawelose mense het nie.

Verskeie pogings om ’n plaaslike skuiling op te rig, is ná jare steeds onsuksesvol.

Chrisna du Plessis, stigter van Siyabonga Care Village op Kleinplasie naby Vredenburg, het met ’n vorige onderhoud aan Weslander gesê sy probeer al etlike jare om ’n skuiling vir mense sonder ’n heenkome op die been te bring. Volgens Du Plessis is die geskikte skuiling ’n plek waar haweloses ná 16:00 ’n voedsame aandete kan kom geniet, stort, warm slaap en ’n geleentheid kry om hul klere te was. Bedags moet die mense hul eie gang gaan.

Die grootste uitdaging is geld.

Du Plessis sê daar is wel haweloses wat hulp weier en verkies om op straat te bly.

Elpetra, ’n Christelike organisassie geleë op die Vredenburg-Velddrif-pad, neem al jare lank mans in wat aan verslawing ly, hou hulle besig met handearbeid op die plaas en gee hulle die nodige steun om gerehabiliteer te word.

“Sommige haweloses is egter nie bereid om hul ongesonde leefstyl prys te gee of te werk vir ’n slaapplek nie,” het Du Plessis verduidelik. “Net so het ander haweloses weer familie op die dorp, maar hul verslawing en vernietigende gedrag lei daartoe dat hulle hulp van hul familie­lede weier.”

Een so ’n dwelmverslaafde en hawelose, wat aanvanklik hulp geweier het, is Basie Baard­man wat destyds in Vredenburg se strate met homself gepraat, in die pad gedans en voor motors ingeloop het. Weslander het voorheen berig dat Baardman uiteindelik in 2015 hulp aanvaar het. Hy is sedert­dien gerehabiliteer en woon nou by sy tannie in Louwville waar hy hom met produktiewe aktiwiteite en werkies besig hou – hy is een van die gelukkiges.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.