Kleinskaalse boere in Vredenburg is onlangs deur die plaaslike kleinskaalse boerevereniging vereer.
Die boere wat op 8 Desember vereer is, is lid van die vereniging wat reeds meer as 20 jaar tussen die Vredenburg-gholfbaan en die mopgat boer.
Volgens Malvyn Lewis, voorsitter van die Vredenburg-kleinboerevereniging, was dit die eerste jaar dat die kleinboere vereer word.
“Ons het baie uitdagings as kleinboere, maar ons moenie bakhand staan nie. Oor die algemeen gaan dit goed en ons werk hard op die plaas,” vertel Lewis.
Altesaam sewe boere is vir hul harde werk op die plaas vereer.
Frans Jacobs is aangewys as die beste beesboer. Josef Maritz is die beste skaapboer en Johannes Williams is as die beste opkomende kleinboer aangewys.
Williams het verlede jaar met niks begin nie, maar teen Desember het hy onder meer sewe varke, 70 hoenders en ’n tuintjie gehad.
“Hy het beslis die wil om te boer. Elkeen van ons 29 lede kry ’n hektaar om op te boer en die res van die grond word vir weiding gebruik. Ek glo dit is belangrik om vir mense, veral die jonger geslag, te wys jy kan ’n bestaan uit boerdery maak,” sê Lewis.
Die vereniging huur die grond by die Saldanhabaai-munisipaliteit en betaal maandeliks vir hul waterverbruik.
Anneta Lotriet se tuin het ook vermelding by dié geleentheid gekry. Volgens Lewis het Lotriet ’n aanvoeling vir groente en vrugte en kweek ook die heerlikste waatlemoene.
Die titel vir beste varkboer vir 2019 behoort aan Marlin Holtzman terwyl Chris Titus die skoonste kamp het.
Die topplaaswerker van die jaar is Oupa Hendrik van Rooi wie se hande vir niks verkeerd staan nie.
Lewis sê uitdagings soos veediefstal, bosslapers en drade wat gereeld gesteel word, is algemeen.
“Al is daar moeilike tye wil die kleinskaalse boere van Vredenburg niks anders doen as om te boer nie,” het Lewis gesê.