Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Kleuterskool ly weens virus

LOUWVILLE – “Ek het amper nie meer moed om voort te ploeter nie, maar waarheen gaan die arme kinders?”

Dít is die woorde van Anna Cloete, hoof van Repelsteeltjie, ’n vroeëkin­der­ontwikkelingsentrum in Louwville, Vredenburg.

Die Covid-19-pandemie en finansiële implikasies weens die nasionale inperking het Repelsteeltjie ’n heftige knou toegedien en Cloete is nie seker of dié skooltjie daarvan sal kan herstel nie.

Op 6 Julie is ’n saak teen die departement van maatskaplike ontwikkeling in die Gautengse hooggeregshof gewen wat bepaal het dat alle kleuterskole onmiddellik mag heropen.

Plaaslike kleuterskole het sedertdien met groot opgewondenheid hul persele vir die leerders se terug­keer voorberei en talle skooltjies het vandeesweek weer oopgemaak – nadat hulle byna vier maande toe was.

Maar nie alle vroeëkinderontwikke­ling­sentrums aan die Weskus was voor die inperking finansieel sterk genoeg om die verwoesting wat Covid- 19 gesaai het, te oorleef nie.

Repelsteeltjie is een van dié sentrums.

Volgens Cloete het die meeste ouers opgehou om hul skoolgeld te betaal weens geldelike uitdagings gedurende die inperking en Repelsteeltjie het 99% van sy inkomste verloor.

Die skool bedien ’n armer gemeenskap en volgens Cloete het die skool voor die pandemie reeds swaargekry. Repelsteeltjie se vorige naam was Hansie & Grietjie en volgens Cloete is dié skooltjie, die oudste kleuterskool in Louwville.

Dit blyk die pandemie was die laaste spyker in die doodskis, maar Cloete klou nog aan die hoop dat die skool gered kan word.

“Ons het net bietjie meer as R1 900 oor gehad voor ek nou vir sommige van die personeel, wat ons nie meer kan betaal nie, ’n R100 of wat gegee het. Die gewapende reaksie-eenheid wat ons skool veilig hou, het ook nou hulle geld afgetrek.

“So, die geld is nou heeltemal op,” het ’n hartseer Cloete aan Weslander gesê.

Boonop het diewe die skool geteiken en die skool rot en kaal besteel.

“Ons het nie geld om die goed te vervang wat die kinders daagliks in die klaskamer nodig het nie.

“Die inbrekers het die deure beskadig en ons moes al vier deure toekap om te verhoed dat hulle terugkeer om die skool verder te besteel,” verduidelik Cloete.

“Ons moet die deure vervang en het persoonlike beskermende toerusting nodig om veilig vir ons 56 kinders te kan oopmaak, maar ons kan dit nie bekostig nie.”

Ná die eerste maand van die inperking het die agt personeellede nog hul volle salaris ontvang, maar daarna kon die skool hulle net gedeeltelik betaal.

Cloete sê daar is nie geld om die personeel verder te betaal nie.

Cloete het al oral vir finansiële hulp gaan aanklop, maar sy sê sy het nog elke keer voor ’n toe deur te staan gekom.

“Ons het aansoek by die departement van maatskaplike ontwikkeling vir finansiering gedoen, en ons kwalifiseer, maar dit mag lank neem en dalk te laat vir ons wees.”

Cloete vrees vir die kleuters se veiligheid omdat Repelsteeltjie sommige kinders se enigste heenkome is terwyl hul ouers moet werk.

“Tensy ’n wonderwerk gebeur, sien ek nie hoe ons gou weer gaan oopmaak nie,” hy sy afgesluit.. Enigeen wat wil help, kan Anna Cloete by 073 447 8712 skakel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.