Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Kontrakteur die trekpas gegee

Die nuwe skooljaar is in volle gang en steeds is Panorama Primêr in Vredenburg se nuwe skoolgebou nog nie klaar gebou nie.

Hierdie projek moes lankal reeds voltooi gewees het en steeds het die leerders nie gebruik van die nuwe skoolgebou nie.

In Desember verlede jaar het Weslander berig oor die feit dat die projek geweldig sloer en talle uitdagings ervaar het. Plaaslike subkontrakteurs het gekla oor die kontrakteur, Alfdav, wat hulle nie betaal het nie.

Die notule van ’n aanlyn vergadering van die departement van onderwys met verskillende rolspelers op 18 Februarie bevestig dat die hoofkontrakteur die trekpas gekry het.

Volgens hierdie notule het Alfdav op 5 Junie 2020 ’n kennisgewing ontvang dat hulle nie by die bepalings en spertye van die kontrak hou nie en dat hulle dit moet regstel soos bepaal in klousule 15.3.

Op 5 Oktober is ’n tweede kennisgewing uitgereik waarin die kontrakteur in kennis gestel is dat hy versuim het om te voldoen aan die vereistes van klousule 15.3.

Daarna het Alfdav ’n herstelplan ter tafel gelê en op 4 Desember is hulle ingelig dat hulle 10 dae het om hul sake in orde te kry, anders sal die kontrak gekanselleer word. Alfdav se kansellasie-brief is op 29 Januarie vanjaar uitgereik.

Die Wes-Kaapse departement van onderwys het op die vergadering die subkontrakteurs meegedeel dat die regering hulle ongelukkig nie die geld wat Alfdav hulle skuld, kan terugbetaal nie. Hulle is ook gewaarsku om nie enige materiaal van die bouperseel te verwyder nie aangesien die departement van openbare werke en vervoer hulle strafregtelik vir diefstal kan vervolg.

“Die departemente moedig die subkontrakteurs aan wat deur wanbetaling geraak word om hul regte ingevolge hul kontrak met Alfdav uit te oefen,” lui ’n deel uit die notule.

“Alhoewel die departement van openbare werke nie daarop kan aandring dat die huidige subkontrakteurs deur die toekomstige kontrakteur in diens geneem word nie aangesien die departement se regulasies dit verbied, sal hulle help met die opstel en verifiëring van ’n lys van subkontrakteurs wat voorheen op die perseel gebruik is.”

Volgens die dokument is die departe­ment van onderwys in die proses om ’n nuwe kontrakteur aan te stel om die bouprojek te voltooi. “Die voorneme is om in die tweede finansiële kwartaal van die 2021-’22-boekjaar met die werk op die perseel voort te gaan, tussen einde Junie en September 2021.”

Alfdav het in Desember Weslander meegedeel dat daar “verskeie dispute” met die departement van openbare werke bestaan en die maatskappy se uitvoerende hoof, David Zamxaka, het nie voor druk­tyd kommentaar gelewer oor die kansel­lasie van hul kontrak nie. Petro Swartz, eienaar van Waycon Projects, een van die subkontrakteurs wat nie hul geld ontvang het nie, voel daar moet ’n forum gestig word om plaaslike subkontrakteurs te beskerm. “Wie beskerm die klein outjies soos ons, die subkontrakteurs wat aan die kortste ent trek?” wil sy weet.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.