Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Langebaan oor die eeue

Op 10 September 1919 het die eerbare Nicolaas Frederic de Waal, eerste administrateur van die Kaap, Langebaan as onafhanklike dorp met sy eie bestuursraad geproklameer.

Langebaan vier volgende week sy 100 ste bestaansjaar en die Saldanhabaai-munisipaliteit beplan ’n groot makietie om die dorp se groot mylpaal te vier.

Hoewel dit ’n eeufeesviering is, strek Langebaan se opgeskryfde geskiedenis so ver terug as die Khoi-San wat 2 000 jaar gelede uit die noorde en die ooste hierheen getrek het, sowel as die aankoms van Fenisiese besoekers in die gebied, voor die geboorte van Christus.

Maar eintlik begin alles by die Saldanha-mens van die Steentydperk. Hierdie oermens moet eintlik die Langebaan-mens heet, want sy gefossileerde skedel is by Elandsfontein gevind, 12 km oos van Langebaan.

Wat die meer onlangse geskiedenis van Langebaan betref, bestaan daar optekeninge deur Franse robbevangers in die gebied wat tot 1501 terugdateer. Die robbejagters se hoofkwartier was Isle à la Biche (vandag Schaapeneiland) waar hulle robbevel en walvisolie gestoor het. Vandag is Schaapeneiland ’n beskermde Ramsar-gebied en die tuiste van ’n yslike kolonie watervoëls.

Altesaam 500 onbekende jare verloop tussen die Fenisiërs se aankoms en die aankoms van die eerste Europeërs.

Die Khoi-heerser Gonnema wat in die Langebaan-omgewing woonagtig was, was ’n klippie in die skoen van die Hollandse owerheid aan die Kaap. Hy het in April 1672 geweier dat die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie die grond by die Khoi-prins, Manckhagon, koop. ’n Familielid van Gonnema het later die eerste Europese burgers wat by Posberg gewoon het, vermoor.

Etienne de Flacourt (op sy dag die direkteur-generaal van Madagaskar) is een van die Franse wat Langebaan besoek en al die eilande in die baai benoem. Hy sien tekens van grootwild en leeus en hy hou die eerste Europese begrafnis deur ’n matroos, ’n ene L’Echuse, op Meeu-eiland te begrawe.

De Flacourt stuur ’n versoek aan die eerste minister van Louis XIV om die hele Langebaan-gebied Frans te verklaar. Daar is so met die versoek gesloer dat dit uiteindelik op niks uitgeloop het nie. Intussen verwyl De Flacourt sy tyd in Langebaan deur die heel eerste Suid-Afrikaanse woordeboek op te stel, 400 Khoi-woorde met Franse ekwivalente.

Hierdie prestasie word in 1664 deur George Fredeich Wreede geëwenaar, ’n Duitse student wat ook by lamplig op Langebaan ’n Khoi-Hollandse woordeboek skryf.

Woeste onderonsies vind van tyd tot tyd op Langebaan tussen die Franse en Hollanders plaas. Uiteindelik het die Hollandse goewerneur, Bax, ’n klipsuil – volledig met die embleem van die Hollandse Oos-Indiese Kompanjie – op Schaapeneiland opgerig. Dit kry egter gou voete, waarskynlik met Franse hulp. Vir meer as 300 jaar bly dit vermis tot ’n hedendaagse Langebaner, Christo Koch, dit in die 1960’s in die vlak water langs die eiland gevind het. Vandag staan dit in die kultuurhistoriese museum in Kaapstad.

Daar is geen uitsluitsel oor waar Langebaan sy naam gekry het nie. Twee teorieë duik telkens op. Die een sê die naam verwys na die lang bane (rye) gevlekte vis wat in die ou dae deur die vissers op die strand oopgesprei is.

Die ander teorie beweer die dorp is na die lang voetpad, of baan, genoem, wat agter die sandwalle langs gekronkel het van die werf van die oorspronklike plaasopstal tot by die Leentjiesklipgebied. Lees volgende week deel 2.

Bron: Historiese dokument verskaf deur Langebaan-inwoner.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.