Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
L’baner vertel van paniek en maskers

Die dodetal in China weens die dodelike koronavirus, wat in die Chinese stad Wuhan uitgebreek het, is reeds meer as 400 en meer as 20 000 mense is besmet.

Weslander het vandeesweek met Keagan de Wet (24) van Langebaan gesels, wat die afgelope twee jaar in China skoolgee en tans in Viëtnam gestrand is tot verdere kennisgewing.

“Mediese gesigmaskers en waterlose handskoonmaakmiddel is oral uitverkoop en groot paniek heers,” vertel De Wet.

Hy werk by die Hangzhou Future Kindergarten-skool in die Chinese stad Hangzhou. Hy vertel dat hy en sy kollegas besig was om vakansiereëlings te tref vir die Chinese Nuwejaar wanneer die skool gesluit is, toe hulle die nuus oor die virus ontvang.

“Ons het nie aanvanklik gedink dit gaan so ernstig wees nie,” het hy erken.

Dit is nou winter in China en De Wet het uitgesien na twee weke van vakansiepret in Thailand.

Hy het Viëtnam toe gevlieg van waar hy vir ’n welverdiende ruskans Thailand toe is. Met sy terugkeer na Viëtnam het hy ’n e-pos ontvang dat sy vlug na China gekanselleer is.

Met sy aankoms in Viëtnam het almal op die lughawe gesigmaskers gedra.

“Dit was die oomblik dat ek die erns van die situasie werklik besef het.”

De Wet was geensins voorbereid vir wat op hom gewag het nie.

“Ek het nie baie vir my ‘strandvakansie’ in Thailand gepak nie en gedink ek sou net twee weke weg wees,” het hy gesê.

“Ons wag nou om te hoor wanneer dit veilig is om na China terug te keer, maar ons het nie ’n idee wanneer dit sal wees nie.

“Ek wil nie terug Suid-Afrika toe vlieg net om te hoor die skool heropen en ek moet oor ’n paar dae in China wees nie,” het hy verduidelik.

Hy besluit nog wat om te doen, maar weet hy sal uiteindelik huis toe moet vlieg as die wagtydperk in Viëtnam te lank aanhou.

“Ek het gehoor geen openbare vervoer is in Hangzhou beskikbaar nie, dus is dit op die oomblik onmoontlik om terug te gaan.”

Hy sê sou hy binnekort na Hangzhou terugkeer, sal hy vir twee weke in sy woonstel in kwarantyn moet bly voordat hy in die openbaar toegelaat sal word.

De Wet se vriendin, Johanette Joubert van Moorreesburg, wat ook in China skoolhou, sou Woensdag (gister) terug Suid-Afrika toe vlieg.

Volgens De Wet is die ervaring uiters ontwrigtend en vreesaanjaend, maar hy voel bevoorreg dat hy hom in Viëtnam bevind “waar dit nog veilig is”.

“Die mense wat tans in China is, soos dié wat besluit het om oor die Chinese Nuwejaar daar te toer, is nou vasgekeer.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.