Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Leer om tekens te ken en verhoed selfdood

Op die gesondheidskalender word 16 tot 23 Februarie opsy gesit vir tienerselfdood-voorkomingsweek.

Volgens die Suid-Afrikaanse depressie-en-angsgroep, Sadag, vorm selfdood sowat 8% van alle sterftes soos aangemeld in akademiese hospitale, maar hierdie syfer kan hoër wees as die hoeveelheid gevalle wat aangemeld word.

Leensie, vertel ons asseblief meer oor die voorkoms van selfdood by tieners in Suid-Afrika: Navorsing toon hoewel meer vroue selfdoodpogings het, is mans meer geneig om selfdood suksesvol te pleeg. ’n Sterk verband bestaan tussen depressie en selfdood. Depressie by tieners is dikwels van ’n verbygaande aard. Ons almal voel soms hartseer, alleen, ons treur of ons voel teleurgesteld, en dit is normale reaksies op sekere lewensgebeurtenisse. Ongediagnoseerde depressie kan egter tot tragedie lei.Dis ook ’n feit dat tot ’n derde van alle selfdoodgevalle deur vorige selfdoodpogings voorafgegaan is.

Wat kan ek doen as ek vermoed iemand na aan my oorweeg selfdood? Hoewel sekere gevalle van selfdood kan voorkom sonder enige waarskuwing, word gevaartekens wat die meeste gevalle voorafgaan, bespeur. Die doeltreffendste manier om selfdood of selfdoodpogings te voorkom, is om die gevaartekens te ken en raak te sien by iemand wat ’n risiko is. Beskou hierdie gevaartekens met die nodige erns en weet hoe om daarop te reageer.

Wat is die gevaartekens waarvoor ons dan op die uitkyk moet wees? Sowat 20 tot 50% van mense wat selfdood pleeg, het in die verlede reeds selfdood probeer. Diegene wat baie ernstige pogings gehad het, is dus ’n baie groter risiko om dit weer te doen. Mense wat selfdood pleeg, praat dikwels direk of indirek daaroor. Wees bedag op goed wat iemand sê soos “My gesin sal beter af wees sonder my”. Soms is hierdie praatjies ’n manier vir so iemand om totsiens te sê. Hoewel die meeste mense met depressie nie noodwendig selfdoodneigings het nie, is die meeste wat selfdood oorweeg, dikwels depressief. Ernstige depressie kan manifesteer in ooglopende hartseer, maar kan dikwels ook manifesteer as ’n verlies aan geluk of plesier of ’n onttrekking van aktiwiteite wat so iemand voorheen gelukkig gemaak of plesier verskaf het.

Wat is die simptome van depressie waarvoor ’n mens op die uitkyk moet wees? As enige van die volgende simptome te bespeur is, is daar rede tot kommer:depressiewe bui,verandering in slaappatrone, verandering in gewig en/of aptyt, praat en beweeg teen ’n ongewoon vinnige of stadige spoed, moegheid en ’n verlies aan energie, gevoelens van waardeloosheid, self-kastyding of skuldgevoelens, gedagtes oor die dood of selfdood.

Ander faktore wat die risiko vir selfdood by mense met depressie kan verhoog, is: uitermatige angs, geïrriteerdheid of opvlieënde gedrag, uitermatige drank- en dwelmgebruik of -misbruik, geskiedenis van fisieke of emosionele siektes, gevoelens van moedeloosheid en desperaatheid.

So, wanneer ons van hierdie gevaartekens by iemand sien, watter aksie kan ons neem? Neem die tekens ernstig op – 75% van alle selfdoodgevalle waarsku ’n vriend of familielid van hul voorneme. Alle dreigemente of pogings tot selfdood moet met die nodige erns hanteer word.

Wees bereid om te luister: Neem inisiatief en vra so iemand wat hom of haar pla. Indien ’n vriend of familielid reeds met depressie leef, moenie bang of skaam wees om hom of haar te vra of hulle selfdood oorweeg of beplan nie. Moenie probeer om met so iemand te argumenteer om hom/haar uit die selfdoodpoging te praat nie. Vertel hulle eerder dat jy omgee en dat hulle nie alleen is nie; dat gevoelens van selfdood tydelik is en dat depressie behandel kan word. Waak teen die versoeking om te sê “jy het soveel om voor te leef” of “selfdood gaan jou familielede seermaak”. Luister aktief na hom of haar – moenie net luister om ’n antwoord te formuleer nie, maar gee so iemand kans om sy of haar gevoelens uit te druk sonder dat jy hoef terug te antwoord.

Wat doen ek in ’n krisis? In geval van ’n akute krisis, neem die slagoffer na ’n noodeenheid of kliniek – moenie die slagoffer alleen laat voordat hulp beskikbaar is nie. Verwyder medikasie, skerp voorwerpe, vuurwapens of enigiets anders wat in ’n selfdoodpoging gebruik kan word. Indien enige van hierdie opsies nie beskikbaar is nie, skakel jou naaste noodnommer (10111 vir die SAPD of 10177 vir mediese nooddienste) of die selfdoodkrisis-hulplyn by 0800 567 567 en vra vir hulp.

Waar kan ons meer inligting kry oor hierdie belangrike onderwerp? Besoek die Wes-Kaapse departement van gesondheid se webtuiste by www.westerncape.gov.za vir nog inligting. Jy kan ook Sadag se webtuiste besoek by www.sadag.org.

Onthou die volgende noodnommers wat jou ondersteuning sal bied: South African Depression and Anxiety Group Suicide Crisis Line: 0800 567 567; Mental health line: 011 234 4837; Lifeline Western Cape telephone counselling: 021 461 1111, WhatsApp: 063 709 2620, E-pos: info@lifelinewc.org.za

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.