SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Nuus
‘Liewe Here, antwoord ons gebede’

Weskussers het Donderdag na Saldanha Staal opgeruk om hulle ongelukkigheid met die aanleg se sluiting bekend te maak.

Die optog by die aanleg se hoofhek volg nadat AreclorMittal Suid-Afrika (Amsa) vandeesmaand aangekondig het die aanleg maak toe aangesien dit nie meer finansieel lewensvatbaar is nie.

“Die aanleg kan nie nog ’n wit olifant word nie. Dit kan nie wees dat ons ’n aanleg het wat staal van wêreldgehalte produseer en ons sê eenvoudig ‘maak dit toe’ nie,” het Sammy Claasen van die Suid-Afrikaanse sosiale en ekonomiese ontwikkelingsforum by die byeenkoms gesê.

Claasen meen die gemeenskap is moeg van gesprekke tussen die staat en die sakesektor sonder die insette van die gemeenskap.

By navraag het Amsa bevestig die afskaal van bedrywighede het reeds begin. Indien alles volgens Amsa se planne verloop, sal alle bedrywighede teen die einde van die eerste kwartaal van 2020 voltooi wees.

’n Saldanha Staal-werker wat met Weslander gesels het, sê die uitwerking van die aanleg se sluiting is groter as wat mense besef. “Op die oomblik is daar reeds nie werk nie. Wat word van die studente by die kollege wat gedink het hulle kan hier kom werk? Daar is reeds nie werk vir mense van die streek in die streek nie. Die mense gaan onder mekaar begin baklei.

“As die aanleg eers toe is, gaan die mense begin inbreek en die winkels gaan nie meer geld maak nie, want daar is niks meer geld om te bestee nie. Hierdie gaan ’n spookdorp word,” meen die pa van twee.

“Ek weet ek moenie kwaad wees nie, maar wat anders kan jy wees as kwaad? My kinders het kos, klere en skoolgeld nodig.”

Weskussers wat instrumenteel was om Saldanha Staal na die Weskus te bring, soos Paulina Mali, was ook by die optog.

Mali het in haar spreekbeurt gesê die streek is reeds ’n gemeenskap in nood.

“Liewe Here, antwoord ons gebede. Wat gaan van dié mense word? Armoede is reeds so groot; dwelms is ’n groot probleem.

“Ons is almal belastingbetalers. Kan ons geld nie gebruik word om Saldanha Staal oop te hou nie? Kom ons bid om die aanleg aan te hou en mag die president ook ons gebede hoor,” het Mali gesê.

Nog ’n optog word vir Donderdag 28 November deur die ANC, SACP, Cosatu en Sanco beplan.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.