Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Lugvaart-kompetisie aan Weskus gehou

Die Saldanha-vliegklub het die afgelope naweek die voorreg gehad om een van die land se mees gesogte lugvaartkompetisies aan te bied.

Vlieëniers van oral het na die Weskus gereis om van Donderdag 2 Mei tot Saterdag 4 Mei aan die Presidentstrofee-lugvaartwedren (President’s Trophy Air Race) op die Saldanha-vliegveld deel te neem.

Die deelnemers aan die kompetisie het ’n roete van nagenoeg 277 seemyl afgelê.

Die kompetisie is Donderdag deur die Wes-Kaapse minister van sport en kultuursake, Anroux Marais, geopen, waarna die burgemeester van die Saldanhabaai-munisipaliteit, Marius Koen, ’n paar woorde met die gaste gepraat het.

Vrydag en Saterdag het talle lugvaart-entoesiaste en nuuskieriges die geleentheid bygewoon om die sowat 45 indrukwekkende blinklywe te bewonder en te sien hoe die vlieëniers en hul navigators die lugstrome met gemak van die aanloopbaan af bestyg.

Ná afloop van die kompetisie is ’n prysuitdelingsgeselligheid Saterdagaand by die vliegveld gehou. Kobus van der Merwe en sy navigator, Sarel van der Merwe, met hul Mooney M20F, het die algeheel eerste plek behaal. Kobus Nel en Martin Grunert het die algeheel tweede plek in ’n Pipistrel Virus SW 100 behaal, terwyl Johan Whiteman en Quintin Kruger derde in hul Piper PA-28-235 C was.

Die Presidentstrofee-kompetisie het oorspronklik as die goewerneur-generaal se lugvaartkompetisie bekend gestaan en is die eerste keer in 1937 as deel van die amptelike opening van Durban se lughawe by Stamford Hill gehou. Die formaat van die kompetisie het oor die jare baie verander en is in 1994 na die Presidentstrofee-lugvaartkompetisie herdoop. • Bron: Flightline Weekly, the South African Power Flying Association.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.