Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Ma en dogter vang saam graad

Die Desember 2018-gradeplegtigheid van die Universiteit Stellenbosch sal vir ’n ma en dogter van Piketberg altyd goeie herinneringe inhou.

Dié Piketberg-inwoners Deidré Eigelaar en haar dogter, Quinta, het albei verlede week kwalifikasies van die Universiteit Stellenbosch (US) ontvang.

Deidré het Woensdag 12 Desember die nagraadse diploma in toekomsstudies ontvang, terwyl Quinta haar B Com- honneurs in strategie en innovasie Maandag 10 Desember ontvang het.

“Ek dink vir ons albei was dit lekker om te weet dat daar iemand by die huis is wat dieselfde voel en wat verstaan as die punte nie is soos wat jy gehoop het dit sou wees nie. Ek het kontakte gehad wat my ma met haar studies gehelp het, en vice versa. Dit was regtig net een groot plesier en so ’n groot voorreg, want ek was my ma se mentor en sy myne,” sê Quinta.

Om vanjaar weer te begin studeer, was vir Deidré ’n groot, maar lekker uitdaging nadat sy haar BA-graad in politieke wetenskap in 1986 ontvang het.

Sy vertel dat haar studies in politieke wetenskap geweldig interessant was en dat dit haar aangespoor het om nog meer te leer. Deidré beoog om haar studies voort te sit en gaan aanstaande jaar haar meestersgraad in toekomsnavorsing doen.

’n Baie belangrike les wat Deidré geleer het, is dat die groot hoeveelheid werk en die druk om dit betyds te voltooi, ’n uitdaging kan wees en dat ’n mens in só ’n situasie goeie tydbestuur moet toepas.

Sy moes baie van haar naweke opoffer en haar sosiale lewe vir haar studies prysgee. Deidré sê sy het nou “meer begrip vir studente se uitdagings”.

Om nuwe mense te ontmoet en vriende te maak ten spyte van die ouderdomsgaping, was glad nie vir haar moeilik nie.

Deidré vertel sy het “die wonderlikste nuwe mense ontdek, nuwe vriendskappe gevorm en blootstelling aan die opwindende diversiteit van Suid-Afrika herontdek”. Sy vertel sy het soveel hoop vir die land met al sy uitdagings.

“Dit was ’n enorme voorreg om tussen diverse mense te wees en nuwe denkraamwerke en verwysingswêrelde het vir my geopen. Ek was ná ’n drie uur lange eksamen behoorlik uitgeput!” sê Deidré verder. Quinta voeg by haar ma het op ’n keer gesê sy verstaan nou hoekom studente ná ’n eksamen ’n glas wyn gaan drink.

Deidré en Quinta wil al twee hul akademiese reis voortsit en beoog om elk in 2019 met hul meestersgraad te begin. Deidré streef daarna om ’n meesters in toekomsnavorsing te doen, terwyl Quinta die korporatiewe wêreld gaan baasraak en sakestrategie en innovasie vir haar meesters wil ondersoek.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.